OUDTSHOORN NUUS - Die filmvervaardiger, Cobus van den Berg, wat onder andere die trefferfilm Griekwastad vervaardig het, laat die kameras weereens in die Klein-Karoo rol met die verfilming van Klein Karoo 2.
Dit volg op Klein Karoo wat in 2012 in en rondom Oudtshoorn geskiet is. Dié film is in 2013 bekendgestel en was daardie jaar die suksesvolste film in Afrikaans.
Klein Karoo 2 word deur Scene 23 Imaginarium vervaardig waarvan Van den Berg, Tim Theron, Tracy Lange en die skrywer Deon Meyer, vennote is.
Volgens Van den Berg moet die hoofkarakter, Frans, vertolk deur Tim Theron, vir die tweede keer in sy lewe liefde vind. Die film speel teen die agtergrond van veediefstal af en die hoofrolle word deur Theron, Leandie du Randt, Marciel Hopkins en Sisanda Hennig vertolk.
Die regisseur is Liezl Spies en die draaiboek is deur Lize Vosloo geskryf.
Die filmspan het reeds op 7 September in die omgewing van Matjiesrivier begin skiet en volgens Van den Berg beplan hulle om teen 3 Oktober klaar te wees.
Hy is ook die eienaar van Swartberg Country Manor op Matjiesrivier waar van die tonele geskiet word.
Inwoners van Oudtshoorn is juis verlede week genooi om as ekstras op te tree by 'n troue wat by dié gastehuis geskiet is.
Klein Karoo 2 word in April 2021 vrygestel.
Tussen 2012 en 2020 het Van den Berg en sy vennote nie op hulle hande gesit nie.
Die films Mooirivier, Jagveld en Born to Win is verfilm, maar die twee groot projekte wat dié span ook met groot sukses afgehandel het, was die vervaardiging van Griekwastad met onder andere Arnold Vosloo, en die spannende televisiereeks Trackers wat op 'n Deon Meyer roman gebaseer is.
Volgens Van den Berg is hierdie beslis nie hulle laaste film nie en is die Klein-Karoo sy gunsteling omgewing vir verfilming.
Hykie Berg se grimering word vinnig afgerond voor 'n toneel. Foto's met vergunning van Scene 23 Imaginarium
Tim Theron, Marciel Hopkins, wat ook die nuwe aanbieder van Boer Soek 'n Vrou is, en die kinemotograaf, Jorrie van der Walt.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'