Gallery
GEORGE NUUS - Die Arende se droomseisoen in die Curriebeker se Eersteliga het op 'n hoogtepunt afgesluit toe hulle die Valke verlede Vrydagaand op Outeniquapark met 36-27 geklop het.
Die Arende het vroeg in die eerste helfte die kitaar geslaan en die Valke geen beweegruimte toegelaat nie. Ná twee kragdrieë deur Wayne Wilschut, agsteman, wou dit voorkom of die besoekers se uittog na die Suid-Kaap in 'n nagmerrierit gaan verander.
Maar toe slaan die Valke terug met twee vinnige drieë danksy lakse verdediging aan die Arende se kant. Voor die tuisspan mooi weet wat hulle - en die tuisondersteuners wat die hoofpawiljoen volgepak het - getref het, was die Valke met 27-15 voor en het 'n pynigende nederlaag by die tuisspan begin spook.
Toe die dramatiese ommekeer. Die Arende se bulpak het, soos telkens die seisoen, beheer oorgeneem en die Valke stadigaan begin versmoor. Veral in die skrums het hulle die Valke verniel en gebiedsvoordeel afgedwing.
Drie drieë later deur Wilschit, Wynand Grassmann, klipharde slot, en Marlo Weich, regtevleuel, het die Valke se doppie geklink en kon die Arende 'n agterstand van 12 punte in 'n oorwinning omskep.
Danksy hul oorheersing en puik verdediging kon die Arende 21 punte in die tweede helfte opstapel en die Valke geen. Dis mos rugby.
Die Arende se agttal het in die tweede helfte van die eindstryd 'n kragvertoning gelewer en die Valke totaal oorskadu .Hier, van links af, dryf Hannes Janse van Rensburg, Teunis Nieuwoudt en Wayne Wilschut vorentoe met Johan Steyn en Wynand Grassmann wat regs naderdraf. Met hul oorheersing, in veral die vaste vasette, het hulle 'n rustydagterstand van 27-15 omgeswaai na 'n pragoorwinning met 36-27. Foto's: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'