CALITZDORP NUUS - Die naweek van 2 en 3 Desember gaan dit behoorlik gons by Boplaas Familie-Wingerde in Calitzdorp met die feesvieringe van die appelkoos- en perske-seisoen.
Enigeen wat wil kan die Saterdag en Sondag na hartelus appelkose en perskes op die plaas pluk.
Boplaas sal oor dié twee dae ook aan besoekers die geleentheid gee om hul wyne, jenewer, brandewyn en whisky te proe en met die Nel-familie oor 'n glasie wyn te ontspan.
Dit is 'n heerlike uitstappie vir die hele gesin en die wat wil gaan kan selfs in die Stoepsit Koets ry tot by die boorde.
Die Stoepsit Bistro is ook natuurlike die perfekte plek om 'n glas wyn of 'n spesiale skemerkelkie, wat van die Boplaas reeks gedistilleerde produkte gemaak word, te geniet.
Die Bistro bied ook 'n braaispyskaart aan gedurende die naweek.
Ander aktiwiteite rondom die kelder sluit onder meer 'n meesters klas in die distilleerdery deur Daniel Nel teen R50 per persoon in.
Besprekings is nie hiervoor nodig nie.
Daar sal ook 'n klein Kersfeesmark, wat 'n seleksie van plaaslike handgemaakte produkte gaan verkoop, wees.
Die feesvieringe by Boplaas in Saaymanstraat begin Saterdag van 09:00 tot 16:00 en Sondag van 10:00 tot 15:00.
Skakel 044 213 3326, of stuur 'n e-pos aan boplaas@mweb.co.za of besoek hul webtuiste by www.boplaas.co.za vir meer inligting oor die volledige program.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'