OUDTSHOORN NUUS - Daar word in die behoeftes van talle persone en kinders met gestremdhede in Oudtshoorn, voorsien danksy die Vereniging vir Persone met Gestremdhede alom bekend as APD (Association for Persons with Disabilities).
Volgens Isabel Duvenhage, maatskaplike werker by APD, fokus hulle op voorkomings- en bewusmakingsdienste, opleiding en bemagtiging van persone met gestremdhede sowel as hul versorgers.
Die organisasie bestaan uit drie komponente: maatskaplike dienste, Sonskyn Spesiale-dagsorgsentrum vir kinders en 'n werkswinkel vir volwassenes.
By die dagsorgsentrum word stimulasie aan 30 kinders met spesiale behoeftes gebied.
Alhoewel daar voldoende toegeruste klaskamers vir die kinders is, is daar geen buite speelarea nie.
Duvenhage nooi lede van die gemeenskap om betrokke te raak by projekte om geld in te samel vir 'n speelarea.
"Die speelarea is tans ons grootste behoefte. 'n Debutantebal word vir 31 Augustus beplan as fondsinsameling. Ons soek nog persone om as debutant vir 'n kind op te tree.
"Ons ondersteun die ouers van kinders met gestremdhede deur hulle te help om fondse in te samel deur saam met die ouers van die kind, nog 'n persoon te kry om as debutant te kan optree."
Die beskermde werkswinkel bied projekte aan vir 40 volwassenes met gestremdhede.
Die projekte bestaan onder andere uit tuinwerk, motorwas, skoonmaak, hare sny, sport en aktiwiteitsgroepe.
Daar is ook 'n produksiespan wat uit ses volwasse gestremdes bestaan wat krale uit volstruiseierdoppe verwerk en 'n eie inkomste daaruit genereer. 'n Vrouetee word in September as 'n fondsinsamelinsprojek vir die werkswinkel beplan.
Volwassenes met gestremdhede tydens een van die aktiwiteite verlede Dinsdag. Foto's: Hannes Visser
Behalwe vir die versorging van mense met gestremdhede het APD ook 'n dienswinkel wat doeke verkoop en rolstoele, looprame en ander hulpmiddels verhuur.
Mense wat APD graag wil ondersteun of meer inligting oor hulle dienste wil bekom kan die volgende nommers skakel:
Maatskaplike afdeling - 044 272 2106
Sonskyn-dagsorgsentrum en werkswinkel - 044 279 1559.
Die personeel van APD se maatskaplike dienste en dagorgsentrum. Voor, van links is: Lisa Cooper (programinmpilmenteerder), Amanda Mhlebi (klas assistant), Isabel Duvenage (maatskaplike werker), Celeste Piedt (versorgers), Juliana Britz (klas assistant), Venesia James (kok), Suarya Britz (versorger)Agter links is: Josline Jordaan (versorger), Venita Sauls (versorger) en Nadine Laban (klas assistant).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'