OUDTSHOORN NUUS - Die kinders verbonde aan die Polisiehoogte Sopkombuis en Nasorgsentrum het elkeen 'n geskenk van 'n oorsese organisasie ontvang wat anoniem wil bly.
Philip Seroux, stigter van die sentrum het sy dank teenoor die organisasie uitgespreek.
Tydens die geleentheid het 'n oud-bendelid en gevangene, Zayne Coerecius, sy storie van dwelms en die tronk met die kinders en hul ouers gedeel en 'n motiveringspraatjie gelewer waarin hy die kinders gewaarsku het teen die gevare wat dwelms en alkohol vir hulle inhou.
Hy het 'n nuwe blaadjie omgeslaan en probeer help oral waar hy kan.
Seroux het by dieselfde geleentheid ook sy dank uitgespreek teenoor ander weldoeners soos adv. Stephan Lourens en Boshoff Boumateriale wat die afgelope tyd bygedra het tot die aanbou van 'n kombuis by die sentrum. Skenkings soos 'n stoof, stoele, tafels asook 'n potspeltafel en speletjies is ontvang.
Volgens hom is die sopkombuis en nasorgsentrumgsentrum besig om uit sy nate bars.
"Behalwe die meer as 100 kinders wat elke weeksdag iets kry om te eet, gee die sentrum nou ook van Maandag tot Vrydag 'n middagete aan sowat 60 bejaardes," sê Seroux.
Dit word moontlik gemaak danksy die departement maatskaplike dienste en die Oasis Gemeenskapsprogram.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'