OUDTSHOORN NUUS - Die ANC-party in die Oudtshoorn munisipale raad het vandeesweek via 'n sterk bewoorde verklaring hul misnoeë te kenne gegee met die nuwe aanstelling van Noel van Stade wat nou die direkteur van gemeenskapsdienste-portefeulje pos by die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit sal beklee.
Volgens die ANC is dit openbare kennis dat Van Stade 'n DA-leier is, wat hom diskwalifiseer om 'n senior bestuursposisie in plaaslike regering te beklee.
"Die aanstelling van Van Stade is nog 'n blatante voorbeeld van DA-kaderontplooiing. Die aanstelling strook nie met wetlike voorskrifte wat die aanstelling van senior bestuurders reguleer nie. Dit is 'n weerspieëling van die koalisie se gebrek aan goeie regering en openbaar die politieke inmenging van DA in aanstellings in die munisipaliteit."
Die ANC beklemtoon ook dat die huidige DA-geleide koalisie Van Stade se onbevoegdheid opsetlik verontagsaam en dat die aanstelling van Van Stade nie publieke vertroue inboesem nie - dus kan goeie bestuur en gebrek aan respek vir die oppergesag van die reg nie meer in Oudtshoorn-munisipaliteit seëvier nie.
Luidens dié verklaring eis die ANC dat Chris Macpherson onmiddellik as burgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit bedank.
Kantoor van die burgemeester
By navrae het die burgemeesterskantoor gesê dat dit absoluut kleinlike politiek van die ANC is om nou beswaar teen sy aanstelling te maak nadat daar tydens die betrokke raadsvergadering, toe sy aanstelling bekragtig is, geen teenstem teen sy aanstelling uitgebring is nie.
Die burgemeesterskantoor het ook bevestig dat Van Stade sedert 30 Mei 2023 as DA-addisionele lid van wyk 15 en as wykskomiteelid van wyk 15 in Drakenstein bedank het toe hy die aanstelling as direkteur van gemeenskapsdienste by die Oudtshoorn-munisipaliteit aanvaar het.
"Waarom daar nou te velde getrek word teen sy verbintenis met die DA in Drakenstein is 'n vraag wat net die ANC sal kan beantwoord."
Oudtshoorn-munisipaliteit is bevoorreg om Noel van Stade, met sy wye veld van ondervinding, as direkteur te mag hê.
Tydens 'n raadsvergadering toe Noel van Stade se aanstelling bekragtig is, was daar geen teenstem van die ANC nie.
Chris Macpherson
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’