KANNALAND NUUS - Ses werknemers, waarvan sommige in senior posisies van die Kannaland-munisipaliteit, is briesend na hul dienste opgeskort is direk na die onlangse magsoorname van die Icosa en KIP-koalisie.
Volgens een van die werkers, wat onder die voorwaarde van anonimiteit met die media gesels het, het die betrokke werknemers vyf jaar termynkontrakte met die Kannaland-munisipaliteit gesluit wat nie gebind is aan die termyn van die politieke ampsdraers nie.
Oudtshoorn Courant is in besit van indiensnemingsooreenkomste en kontrak-aanstellingsdokumente van die werkers wat op 16 November 2021 onderteken is.
Hierdie dokumente stipuleer dat hul aanstellings geldig is tot een maand na die volgende plaaslike verkiesing.
Hulle griewe is as volg:
- 'n Gedeelte van 'n verhoging wat nie in Julie 2022 aan hulle betaal is nie.
- Ses werksdae wat afgetrek is in Oktober 2022 alhoewel die werkers volgens hulle pligsgetrou tot en met 25 Oktober 2022 by die werk was.
- Kennismaand-salaris soos ooreengekom in die kontrak.
- 13de-tjekbetaling wat uitstaande is omdat die werkgewer die kontrak beëindig het.
In antwoord op 'n navraag aan die kantoor van Kannaland se munisipale bestuurder, is die werkers se griewe 'n interne aangeleentheid en is daar interne prosesse wat gevolg sal word.
Geen kommentaar kan dus gelewer word nie, lui die verklaring.
'Ons bring jou die nuutste Kannaland, Karoo nuus'