OUDTSHOORN NUUS - Na 30 jaar ononderbroke diens in die Oudtshoorn-munisipaliteit groet Jan George (60) as kantoortoesighouer by Dysselsdorp munisipale kantoor.
George beskryf sy aftrede as 'n nuwe reis en is opgewonde daaroor: "Ek gaan beslis my kollegas mis, veral ook die daaglikse interaksie met die gemeenskap en natuurlik om elke dag werk toe te kom. My nuwe reis sal wees om te ontspan en om meer aktief by die kerk betrokke te raak."
George sê dat sy loopbaan by die Oudtshoorn-munisipaliteit as kassier tot waarnemende dorpsbestuurder een van sy grootste oomblikke is waaroor hy nie spyt is nie en voeg by dat hy dankbaar is vir die geleentheid wat hom te beurt geval het, waar hy saam met die kantoor gegroei het tot waar dit vandag is.
Desmond Salmans, wat by hom oorgeneem het as kassier 18 jaar gelede, beskryf George as 'n saggeaarde, eerlike, lojale persoon wat altyd respek gehad het vir ander. "Ek kon baie by hom leer en ek en hy besef hoe bevoorreg ons is om met die raad se geld te kon werk. Jan se spreekwoord was altyd "een onwettige pennie van ander verteer 'n duisend" en dit sal altyd my by bly."
Die Oudtshoorn-munisipaliteit se Dysselsdorp-kantoor wens George 'n geseënde aftrede toe.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'