OUDTSHOORN NUUS - "Ek is Paul Amas, die dankbare een." Dit is hoe Amas homself beskryf na hy bykans 'n jaar gelede deur een van die grootste beproewings in sy lewe gegaan het. Hy is welbekend in Oudtshoorn as sanger en seremoniemeester, maar ook vir die talle liefdadigheidsprojekte wat hy al aangepak het om minderbevoorregtes te help.
Amas se hele linkerlong is verlede jaar tydens 'n drie uur lange operasie verwyder.
"Ek het eendag aan een van my speakers gewerk en toe skielik hoes ek bloed. Ek het eventueel vir plate gegaan en daar het die dokter gesien dat my long baie skade het en die regter long was vergroot omdat hy al die werk moes doen. Die spesialis by George-hospitaal het, na hulle 'n CT-scan gedoen het, gesê dat hulle die long sal moet verwyder omdat dit my sieker gaan maak. Ek het net 8% funksie van my linkerlong oorgehad."
Volgens hom het hy 22 jaar gelede tuberkulose gehad wat die skade aan sy long veroorsaak het.
"Ek het toe vir twee weke in Groote Schuur-hospitaal gelê. Dit was 'n baie scary tyd, maar dit is waar my long skade gekry het. Ek vermoed ook dat ek Covid gehad het, maar ek is nie getoets nie omdat ek nie genoeg simptome gehad het nie."
Hy is op 4 Mei 2022 in Groote Schuur opgeneem. Op Hemelvaart, 26 Mei 2022 is Amas uiteindelik geopereer en op 6 Junie ontslaan.
"Die operasie is twee keer uitgestel. Dit was senutergend. Die hele proses was ook een van my grootste leerskole. Ek het baie geduld geleer. Ek het geleer om na my liggaam te luister en dit rustig te vat as ek moet. Bowenal het ek van dankbaarheid geleer."
Amas sê hy het in die hospitaal besef hoe bevoorreg hy was om te kan leef. Ten spyte van 'n massiewe operasie waar een van sy belangrikste organe verwyder is, was sy gesondheid beter as meeste van die pasiënte wat saam met hom gelê het.
"Daar was 'n jong mamma in die herstelkamer langs my wat aan masjiene gekoppel was. Sy het dit nie gemaak nie. Ek het haar ma by die dokter hoor pleit en my hart het gebreek. Ek het bly wonder hoekom ek so gelukkig is om te leef. 'n Ander man wat saam met my gelê het wag steeds vir 'n dubbele longoorplanting. Ek en hy is steeds vriende, maar hy het nie daar uitgestap met dieselfde geluk as ek nie."
Amas sê hy het die afgelope jaar emosioneel gesukkel.
"Dit was asof groepe mense vir my te veel was. Ek kon nie lekker cope nie. Tot iemand vir my gesê het ek moet dit hanteer soos 'n verlies. Ek moet vrede maak dat die long verwyder is. Die emosionele herstel na dit was die moeilikste, maar danksy my ongelooflike ondersteuningstelsel het ek bo uitgekom. Ek kan nou met alle eerlikheid sê dat ek dankbaar is teenoor die Vader. Dankbaar dat hy my deurgedra het en dankbaar dat hy my staande hou."
Amas sê hy pas nou 'n gesonder leefstyl toe.
"Ek probeer gesonder leef. Ek fokus meer op seremoniemeester wees en minder op sing, maar ek fokus ook meer op projekte in die gemeenskap. Ek wil deel wat die Here vir my gegee het."
Hy sê verder dat hy bykans heeltemal normaal funksioneer met net die een long.
"Dit is verbasend hoe vinnig mens se liggaam by so 'n situasie aanpas. Ek haal normaal asem en doen amper als wat ek voor die operasie gedoen het. Ek kyk net beter na myself en luister na my liggaam. As hy sê rus dan rus ek."
Amas sê hy wil ander mense deur sy storie inspireer.
"As God my hierdeur kon dra, kan Hy my deur enigiets dra. Ek hoop om vir mense te leer om nooit op te gee nie en nie te gaan lê nie. Ek wil mense ook leer dat al gaan dit sleg met jou is daar altyd iemand waarmee dit slegter gaan. Ek het net een long, maar hy werk. My vriend het twee longe wat nie werk nie. Ek het regtig soveel om voor dankbaar te wees. Ek sê elke dag dankie aan my vrou, dogter, vriende en familie wat nooit ophou bid het nie. Daar was gebedsgroepe vir my regoor die land."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’