OUDTSHOORN NUUS - Drie van die vier hoofroetes na Oudtshoorn is tans onder konstruksie.
Met padwerke wat hierdie maand ook tussen Oudtshoorn en George begin het, is daar nou verkeersbeheerpunte op die roetes tussen Oudtshoorn en George, Oudtshoorn en Calitzdorp sowel as Oudtshoorn en De Rust.
Konstruksiewerk van R55 miljoen aan die pad tussen Oudtshoorn en George is reeds voorverlede jaar goedgekeur. Die gedeelte vanaf die T-aansluiting by Holgate tot net bokant Perdeskoendraai word herseël en op sommige gedeeltes word die pad verbreed om die veilige verbysteek van stadige verkeer moontlik te maak. Na verwagting sal die werk wat oor 16,5 km strek, teen die einde van die jaar voltooi wees. Die kontrak sluit ook die opgradering in van die pad vanaf die T-aansluiting tot by Herold wat 6,7 km beslaan. Verkeersbeheerpunte sal ook bedags op hierdie gedeelte van die pad in werking wees.
Volgens 'n mediaverklaring van Byron la Hoe, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer en openbare werke, is opgradering aan die George-pad laas in 2003 onderneem en is opgradering noodsaaklik as gevolg van die hoë verkeersvolume.
Oudtshoorn na De Rust
Padwerke tussen Oudtshoorn en De Rust sloer al bykans twee jaar nadat die aanvanklike konstruksiemaatskappy teen die einde van 2017 die trekpas gekry het. Die nuwe maatskappy wat die werk oorgeneem het, vorder fluks, maar sal nog etlike maande besig wees. Daar is tans drie verkeersbeheerpunte op die pad tussen Oudtshoorn en De Rust.
Oudtshoorn na Calitzdorp
Daar is tans twee beheerpunte op hierdie pad terwyl die padoppervlak herseël word. Volgens La Hoe behoort die werk teen die einde van Mei voltooi te wees.
Motoriste moet geduldig wees
Gerald Becker, provinsiale verkeershoof van die streek, sê die werk aan die George-pad sal 'n groot verbetering ten opsigte van veiligheid wees. "Aanvanklik is die padwerke frustrerend vir motoriste, maar by voltooiing daarvan sal daar gedeeltes wees waar swaarvoertuie links kan ry sodat vinniger verkeer kan verbysteek wat die verkeersvloei baie sal verbeter."
Becker sê hulle grootste probleem op paaie met padwerke en beheerpunte, is ongeduldige motoriste. "Ons vind dat motoriste ongeduldig raak as hulle by beheerpunte moet wag en dan jaag sodra die pad oop is om te probeer om tyd op te maak." Hy doen 'n ernstige beroep op motoriste om daarby te berus dat reistyd langer gaan neem, dat daar tans min veilige verbysteekplek is en dat hulle dit in berekening moet bring.
"Reistyd tussen Oudtshoorn en enige dorp waar daar beheerpunte is, kan met ten minste 'n halfuur verleng word en motoriste moet daarvoor voorsiening maak."
Volgens hom is die pad na George die besigste pad met die meeste swaarvoertuie. "Dit is die hoofroete tussen die kus en die Karoo wat reeds baie verkeer beteken, maar daar is ook 'n groot aantal mense van Oudtshoorn wat in George werk en dan kom die meeste voorraad vir besighede ook van George af." Hy noem dat die pad veral soggens en laatmiddag baie besig is en vra motoriste om vir die volgende aantal maande uiterste geduld te beoefen.
Die padwerke het ook 'n invloed op reaksietyd van noodvoertuie wat op botsings en noodsituasies moet reageer. Volgens Becker is die beheerkamer in Oudtshoorn in direkte verbinding met die onderskeie kontrakteurs. "Sodra noodvoertuie uitgestuur word, word die kontrakteur in kennis gestel sodat beamptes by beheerpunte die verkeer kan stop om noodvoertuie deur te laat."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'