OUDTSHOORN NUUS - Aleit Swanepoel, Suid-Afrika se onthaalmeester en aanbieder van die televisieprogram, Tyd met Aleit, het verlede week 'n draai in Oudtshoorn gemaak.
Hy was Saterdag by die Emporium in Rademeyerstraat die gasspreker by 'n geleentheid wat deur Johanita Marx Verhurings en Spyseniering gereël is.
Daar het hy aan Oudtshoorn Courant gesê dat hy besig is om 50 dorpe in die land te besoek om mense te bemoedig. Oudtshoorn was sy vyftiende dorp en hy het twee optredes hier gehad.
Volgens hom is die hoofdoel van sy 50 besoeke om 'n woord van hoop en bemoediging deur Suid-Afrika te versprei.
"Ek het net eenvoudig vir 'n klomp mense in verskillende dorpe 'n e-pos gestuur wat basies sê 'as jy jou dorp se hoofmeisie is en jy wil graag hê ek moet 'n draai kom maak, laat my weet' en binne twee of drie dae het ek 50 dorpe gehad," het hy Vrydag by die Emporium gesê.
Sy praatjie was oor sy eie persoonlike reis tot en met die vervaardiging van Tyd Met Aleit en tussendeur het hy onthaalwenke gegee en oor mode tendense gesels.
Op hierdie wyse, sê hy kom hy by mense uit wat nie die geleentheid het om sy funksies en praatjies in die stede by te woon nie.
Aleit Swanepoel tydens sy praatjie verlede Vrydagoggend. Foto's: Ilse Jordan
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'