OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou wat meer as haar man kon staan. So is die 50-jarige Wendy Belinda Prins, alombekend as Lolla, van Fernstraat, Colridge View, Saterdag in huldeblyke tydens haar begrafnisdiens beskryf.
Prins was 'n prokureur van beroep en is op 18 Februarie aan longkanker oorlede.
Volgens een van haar oudopvoeders by die destydse Protea Laerskool op Oudtshoorn, Maria Jonas, was sy 'n merkwaardige persoon met ongelooflike deursettingsvermoë.
Sy was in 1986 sekretaresse van die destydse Bridgton Jeugvereniging wat by die UDF en Suid-Kaap Jeugkongres geaffilieer was en het haar beywer om families van jongmense wat deur die polisie aangehou is, te ondersteun. Sy het ook uit haar pad gegaan om minderbevoorregte studente te help om toegang tot tersiêre opvoeding te kry.
As gevolg van politieke onrus in die tagtigerjare kon sy nie matriek klaarmaak nie omdat sy self vir ses maande in die tronk was. Sy het egter, nadat sy later haar matrieksertifikaat verwerf het, haar aan die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) as prokureur bekwaam en in die arbeidsreg gespesialiseer.
Sy was 'n stigterslid van die Suid Afrikaanse Prokureursvereniging (Wes-Kaap) en lid van die studenteraad waar sy regstudente verteenwoordig het.
Sy het destyds in die Wes-Kaapse Wetgewer onder premier Ibrahim Rasool gewerk en later ook in die kantoor van die kommissaris van arbeidsregte.
In Desember verlede jaar het sy na Oudtshoorn teruggekeer om haar eie regspraktyk te open. Prins laat haar moeder, Mina, vyf broers, Willie, Martin, Desmond, Elton en Whidney, en drie susters, Sonja, Debbie en Phoccia agter.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'