OUDTSHOORN NUUS - Een van twee mans van Oudtshoorn wat 'n vrou by 'n karwasbesigheid in Bongolethu met 'n panga gedreig en van ses bottels bier beroof het, is in die Oudtshoorn-streekhof agt jaar gevangenisstraf opgelê.
Jason Fortuin het skuldig gepleit terwyl sy medebeskuldigde, Heinrich Nathan, onskuldig gepleit en hul sake geskei is.
Fortuin sê in 'n pleitverduideliking dat hul geld die betrokke dag opgeraak en hulle toe besluit het om die biere uit 'n yskas te gaan haal.
Hy het die vrou van die eienaar met 'n panga gedreig waarna sy weggehardloop het.
Hy erken dat 'n panga 'n gevaarlike wapen is en hy onder die invloed van alkohol was.
Hy het ook erken dat hy hom aan roof met verswarende omstandighede skuldig gemaak en daarvoor gestraf kan word.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof vir 'n swaar vonnis gevra omdat Fortuin aan 'n ernstige misdryf skuldig bevind is. Hy het egter nie die hof se tyd gemors nie en skuldig gepleit.
Streeklanddros Ntsoki Moni het Fortuin onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit en die saak teen Nathan vir verhoor in 'n ander hof tot 26 Junie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'