OUDTSHOORN NUUS - ’n Man van Riversdal met ‘n lang lys vorige veroordelings wat op Prins Albert gaan werk soek het, is verlede week in die Oudtshoorn streekhof weer aan diefstal skuldig bevind en agt jaar tronk toe gestuur.
Die 25-jarige Hendrik Uithaler het skuldig gepleit op die klagte dat hy die kluis van Spar waar hy ‘n werknemer was, oopgesluit en R10 000 vir homself geneem het.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof meegedeel dat Uithaler geen ander keuse gehad het as om skuldig te pleit nie omdat hy duidelik op geslotebaan televisie gesien word.
Met ‘n string vonnisse in die Riversdal landdroshof het hy Prins Albert toe geskuif waar hy weer ‘n misdaad gepleeg het. Volgens haar is hy ‘n kandidaat om as gewoonte misdadiger verklaar te word.
Uithaler se regshulpprokureur, Wenzel Botha het vir ‘n gedeeltelike opgeskorte vonnis gevra omdat hy vir ‘n lang tydperk in aanhouding was.
Streeklanddros Daniel Boks het in ag geneem dat hy skuldig gepleit het
Hy toon egter ‘n geneigdheid om misdaad te pleeg en die enigste gepaste vonnis in die lig van sy lang lys van vorige veroordelings is dus ‘n lang termyn gevangenisstraf omdat korttermyn vonnisse van gevangenisstraf nie die gewenste uitwerking gehad het nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'