OUDTSHOORN NUUS - ’n Man van Bongolethu, wat daaraan skuldig bevind is dat hy gepoog het om ‘n 9-jarige meisie te verkrag, is verlede Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis.
Shane Goliath (28) het onskuldig gepleit en getuig dat hy nie die betrokke dag saam met die kind was nie.
Sy alibi was dat hy heeldag saam met sy meisie was.
Die kind het deur middel van 'n tussenganger getuig dat Goliath haar op 1 Julie 2020 gevra het om saam met hom na sy ma se huis te stap.
Daar was niemand tuis nie en die beskuldigde het die deur gesluit.
Hy het daarna haar langbroek en broekie afgetrek en haar op haar maag op die bed laat lê.
Nadat hy homself ontklee het, het hy bo-op haar gelê, het die kind getuig.
Terwyl hy bo-op haar gelê het, het sy ma aan die deur geklop. Hy het hom aangetrek en die deur oopgemaak.
Goliath het getuig dat hy die betrokke dag nie in Freedomstraat was nie, maar wel in Kanaalweg.
Terwyl hy daar was het hy die kind en sy suster sien verbystap op pad na die polisiestasie.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof gevra om Goliath se weergawe te verwerp. Volgens hom het die kind ‘n kronologiese beskrywing van die dag se gebeure gegee en selfs tydens kruisondervraging nie haarself weerspreek nie. Die beskuldigde se ma was ook ‘n geloofwaardige getuie.
Goliath se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, was van mening dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla het met vonnisoplegging gesê dat die kind, sowel as Goliath se ma, by hul weergawes gehou het en daar geen rede is om dit nie te aanvaar nie.
“Die beskuldigde se weergawe is ‘n opgemaakte storie. Dit is duidelik waarmee hy besig was, en was dit nie vir sy ma nie, sou hy gedoen het wat hy wou doen. Sy weergawe is nie redelik moontlik waar nie. Hy het leuens vertel in die hof,” het die landdros gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'