OUDTSHOORN NUUS - Die AGS Bridgton het sy 75ste bestaansjaarvieringe met die tema, 'Celebrating and honoring God and our leaders' Saterdag met 'n vereringsfunksie vir die drie stigterlede begin.
Die naweek is Sondagaand met 'n feesdiens afgesluit. Die feestelikheid sal met verskillende geleenthede en funksies tot Oktobermaand duur.
Die kerk is in 1943 deur Pieter Frans, Abdul Isaacs en Adam Blaauw gestig, het Vincent Isaacs, oudste kleinkind van Abdul Isaacs, in 'n oorsig van die kerkgeskiedenis vertel.
Volgens hom het die drie stigters vanaf die Oos-Kaap na Oudtshoorn verhuis om werk te kom soek.
Dienste is in hul huise gehou en later in 'n gemeenskapsaal in Springbokweg wat bekend gestaan het as die Bliksaal.
Die saal is Saterdagaande vir danse gebruik en moes elke Sondagoggend voor die diens skoongemaak word
Opelugdienste is ook in Ou Bridgton, die destydse TB-hospitaal, in Lilly Court, die Spoorwegkamp, langs die Olifantsrivier en in die Brook (waar die Caves-aftreeoord vandag staan) gehou.
Troues is later in die woning van Abdul Isaacs voltrek.
Daar is in 1966 begin met die bou van 'n kerk, ook in Springbokweg, en die huidige groter kerkgebou in Zebraweg is in die Paasnaweek in 2012 in gebruik geneem.
Pastoor Leon Prinsloo van Groot-Brakrivier, streekvoorsitter van die AGS (SWD), het in 'n sy feesboodskap lof toegeswaai aan die stigters van die kerk, oudpastore, kerkraadslede en almal wat oor die jare hard gewerk het om die kerk te bring tot waar dit vandag is.
Hy het in sy boodskap met die tema 'Sukses' daarop gewys dat dit net bereik kan word deur hard te werk.
Die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, het namens die raad en inwoners die gemeente gelukgewens.
"'n Nuwe dag het in die kerk se lewe aangebreek."
Volgens Sylvester was die AGS Bridgton in 'n klein mate die voorloper van die KKNK met Eisteddfods, talentkompetisies en konserte wat die kerk in die verlede aangebied het.
"Die AGS Bridgton het ook in my eie lewe 'n baie groot rol gespeel," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'