KLEIN KAROO NUUS - Agri Wes-Kaap het op Woensdag 25 November tydens ‘n galadinee twee besondere eretoekennings gemaak: een aan mnr Cornie Swart, voormalige president van die organisasie, en een aan mnr Bob Reinecke, jarelange aktiewe lid van Agri Wes-Kaap wat tans in Calitzdorp woon.
Swart, wat vanjaar die tuig as president van Agri Wes-Kaap neergelê het, se pad met Wes-Kaapse produsente het in 1973 begin toe hy by die Departement van Landbou-Tegniese Dienste as landboukundige begin werk het.
Mnr Jannie Strydom, uitvoerende hoof, sê sy spore lê diep, van landbouverenigingsvlak af, deur streeksvlak tot op provinsiale en nasionale vlak. “Die geskiedenis gaan nog die spore wat Cornie getrap het, bevestig.”
“Hy het vir die landbouers baklei, nie vir sy eie beeld of vir sy eie agenda nie. Natuurlike hulpbronne is sy kundigheid en sy absolute vakgebied. Vra vir hom enigiets van water, van bodembeskerming, van die Wes-Kaap se ekologie en van enige fauna en flora in die provinsie. Vra vir hom enige boom of plant se Latynse naam. Dit was ‘n voorreg om hom as leier van hierdie organisasie te kon hê,” het Strydom gesê.
Mnr Bob Reinecke (90) het reeds in 1987 afgetree ná 'n loopbaan as mariene advokaat. Sedertdien boer hy in Ladismith en was aktief betrokke by sy plaaslike landbouverenigings, eers Agri Ladismith en nou Agri Calitzdorp, waar hy tans woon.
Hy was in 1997 en 1998 as addisionele lid op Agri Wes-Kaap se sakekamer gekoöpteer. Strydom het gesê mnr Reinecke is 'n uitsonderlike voorbeeld vir elke landbouprodusent wat nog twyfel oor die onontbeerlike rol van die georganiseerde landbou.
Hy sê Agri Wes-Kaap vereer mnr Reinecke vir sy lojaliteit, visie en onvoorwaardelike ondersteuning van Agri Wes-Kaap oor baie jare. “Sy betrokkenheid by Agri Wes-Kaap het nog altyd gepaard gegaan met sy briljante insig, kundigheid, waardevolle bydrae en skerpsinnigheid. Ons eer hom as 'n gerespekteerde kollega en vriend wat altyd die beste belang van sy medeboere en die organisasie op die hart dra,” het Strydom gesê.
Die Wes-Kaapse minister van landbou, Dr Ivan Meyer, was ook onder die gaste wat die galadinee bygewoon het.
Mnr Bob Reinecke saam met dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse Minister van Landbou, tydens Agri Wes-Kaap se galadinee waar mnr Reinecke ‘n eretoekenning ontvang het.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'