OUDTSHOORN NUUS - Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, het verlede week namens AfriForum se Oudtshoorn-tak 'n skrywe rakende salarisverhogings van raadslede aan Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning sowel as die munispale bestuurder van Oudtshoorn gerig.
Volgens Greyling versoek hulle dat die terugwerkende verhogings aan raadslede, soos voorgestel deur die Oudtshoorn munisipale raad, nie toegestaan word nie.
"Ons voel sterk daaroor dat dit ons munisipale raadslede se mandaat is om toe te sien dat verantwoordelike plaaslike regering en bestuur plaasvind.
Om nou vir terugwerkende verhogings te vra, te midde van wat as die ergste droogte in 100 jaar bestempel word, asook die gepaardgaande ekonomiese krisis van die dorp, strook nie met ons siening van verantwoordelike bestuur nie," het Greyling gesê.
Greyling sê hy het ook kwessies geopper soos "die riool tariewe wat na ons opinie op 'n onwettige manier gehef word, die storting van riool in die Grobbelaarsrivier en die toestand van die vullisstortingsterrein".
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit het Woensdag Allen Paulse, munisipale bestuurder, se reaksie op die kwessie aan die media gestuur.
Volgens Paulse is die kwessie oor riooltariewe reeds op 26 Junie 2018 aan Afriforum se hoofkantoor verduidelik en is die huidige beweringe dat dit nie aangespreek is nie, onwaar. Wat die terugwerkende verhoging van raadslede se salarisse aanbetref het Paulse as volg reageer:
"Die vergoeding van raadslede word jaarliks deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake by wyse van kennisgewing in die staatskoerant, ingevolge die Wet op die Vergoeding van Publieke Ampsdraers, (Wet 20 van 1998) vasgestel.
Die vergoeding van ampsdraers word ook deur die nasionale toekennings aan plaaslike bestuur gesubsidieër, die subsidie beloop nagenoeg 40% van die totale vergoeding van ampsdraers.
Die verhoging soos deur die minister bepaal beloop vir die 2018/2019 boekjaar slegs 4% en voldoende voorsiening is daarvoor gemaak in die munisipale begroting.
Ons wens dit op rekord te plaas dat die raad ten tye van die finansiële krisis nie verhogings geneem het nie en die huidige finansiële posisie van die munisipaliteit asook bekostigbaarheidsfaktore deeglik oorweeg was voor 'n besluit in hierdie verband geneem is. Volgens Paulse is die huidige finansiële posisie en die vordering van die finansiële herstelplan van die munisipaliteit, deeglik in ag geneem voordat die verhogings goedgekeur is. Hy het die volgende feite ten opsigte van die munispaliteit se finansiële posisie bekend gemaak:
Die kontant tekort van R110 miljoen in 2016 is omgedraai na kontant voorhande van R114.7 Miljoen soos op 31 Desember 2018 waarvan R 75.8 Miljoen onbeswaarde kontant verteenwoordig.
Debiteure invordering verhoog van 86% na 96%
Die skuld aan Eskom ten bedrae van R54 Miljoen is reeds in Oktober 2017 afbetaal.
Alle ander agterstallige skulde aan krediteure ten bedrae van R32 Miljoen is reeds gedurende Mei 2018 ten volle vereffen.
Die verhouding tussen lopende bates en laste het vanaf 'n negatiewe verhouding van 0.7 tot 1 na 'n positiewe verhouding van 1.4 tot 1 verbeter wat beteken dat die lopende bates die lopende laste 1.4 maal oorskry.
Kapitaal investering uit eie fondse vir 2017/2018 en 2018/2019 beloop meer as R26 Miljoen waar daar tydens die administrasie periode geen eie fondse beskikbaar was vir kapitaalspandering nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'