OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n regsman van Oudtshoorn, wat teregstaan op agt aanklagte van aanranding, crimen injuria en die verbreking van beskermingsbevele, is Vrydag in die Oudtshoorn-landdroshof vir uitspraak uitgestel.
Die eerste vier klagtes teen die 43-jarige adv. Shawn Ferreira spruit uit voorvalle in 2019 en klagtes vyf tot agt oor voorvalle in 2022.
Volgens die klagstaat het Ferreira glo op 3 Oktober 2022 na die woning van die klaer, die ma van sy vyfjarige seuntjie, gegaan waar hy haar uitgeskel het as onder meer 'n "slegte ma" en gedreig om haar dood te maak. Hy het ook glo twee polisiebeamptes uitgeskel.
Die staatsaanklaer, Brynn Petersen, versoek die hof om hom op al agt aanklagte skuldig te bevind omdat sy getuienis nie sin maak nie. Volgens die klaer wil sy egter nie sien dat die beskuldigde tronk toe gaan nie. Sy is lief vir hom. Hy is 'n goeie pa en sien om na sy vyfjarige seuntjie.
Ferreira, wat sy eie verdediging waarneem, voer aan dat die klaer verskillende weergawes aan die hof gegee het, en onder kruisverhoor sy getuienis gestaaf het. Hy staan by sy weergawe en versoek die hof om hom vry te spreek.
Die saak dien voor hooflanddros Ryan van Harte en is Vrydag vir uitspraak tot 30 November uitgestel.
Ferreira bly in aanhouding.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’