OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep gevangenes op Oudtshoorn wat vir 'n aantal weke hard gewerk het om 'n entrepreneurskursus te slaag, is Dinsdag deur die nasionale adjunkminister van toerisme, Elizabeth Thabethe, verras.
Die minister het Dinsdag 'n toer deur die Suid-Kaap onderneem om haar te vergewis van die streek se toerisme potensiaal en is toe gevra om die gevangnes se sertifikate te oorhandig.
Tussen 23 April en 7 Mei het 19 gevangenes die New Venture Creation Course van die Francois Ferreira kookakademie voltooi.
Die kursus is deur Melanie le Roux van die akademie aangebied en die minister het die studente se sertifikate Dinsdagoggend oorhandig.
As deel van die kursus moes elke deelnemer 'n sakeplan vir 'n klein onderneming ontwikkel en voorlê.
Die drie wen-voorleggings was dié van Elvis Jacobus (wenner), Lucille Booth (tweede) en Ruan Nel. Die drie se konsepbesighede was onderskeidelik 'n gereedskapsverhuringsplek, 'n eetplek en 'n gespesialiseerde onderdele-onderneming.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'