OUDTSHOORN NUUS - Absa sal weereens tydens die 2018 KKNK kuns na die hart van Oudtshoorn bring.
'n Aantal funksionele kunswerke sal in die dorp geïnstalleer word om die dorp se status as Suid-Afrika se kunstuiste te vier.
Absa L'Atelier-kunstenaars sal onder leiding van dr. Paul Bayliss, Absa se kuns- en museumkurator, saamwerk om die kragtige, funksionele kunswerke lewe te gee.
Die kunswerke is gebaseer op die 2018 L'Atelier-veldtog se tema: 'Gee kuns lewe'.
Dié werke, wat 'n vermenging van vorm en funksie sal wees, sal op aangewese plekke in en om Oudtshoorn geplaas word.
Die goeie nuus vir inwoners is dat die gemeenskap betrek word by 'n bykomende funksionele kunswerk wat ook geskep word.
Absa nooi die inwoners van Oudtshoorn om hulle eie voorleggings te doen vir dié funksionele kunswerk, wat 'n ereplek in die dorp sal inneem.
Bayliss sal tydens die 2018 KKNK begeleide kunstoere gee en elkeen van die installasiepersele besoek om besoekers 'n blik te gee op die kreatiewe prosesse agter die ontwikkeling en skepping van die kunswerke.
Voorleggings vir die funksionele kunswerk kan aan Mareth Jooste by marethj@playmakers.co.za gestuur word en moet 'n kort beskrywing insluit van jou kunsidee agter die werk asook die funksionele voordeel wat dit vir die gemeenskap inhou. Enige fotoverwysings is welkom.
Die persoon wat die beste voorstel indien sal met vriendelike vergunning van Absa vier kaartjies wen na 'n doelgemaakte BBP-optrede deur een van die top kunstenaars by die 2018 KKNK.
Die sperdatum vir voorleggings is 22 Januarie 2018, en bepalings en voorwaardes geld (beskikbaar by www.kknk.co.za).
"Absa was nog altyd 'n trotse ondersteuner van die kunste en deur ons betrokkenheid by die KKNK sedert die beginjare van die fees, het ons hard gewerk om platforms vir Suid-Afrikaanse kunstenaars te skep." sê Adam Brooke, Absa se borgskapbestuurder.
"Ons wil graag 'n langdurige, kragtige en positiewe stempel afdruk op die dorp wat soveel gedoen het om die kunste selfs groter hoogtes te laat bereik.
"Ons voel dat die skepping van kragtige, funksionele kunswerke die gemeenskap van Oudtshoorn geweldig sal baat, en 'n blywende nalatenskap sal wees.".
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'