OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Gerhard Wolmarans van Dysselsdorp wat daarvan aangekla word dat hy ‘n man wat hom ken drie keer met ‘n mes gesteek en van R50 kontant beroof het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak tot Vrydag 13 Oktober uitgestel.
Wolmarans pleit onskuldig op aanklag van roof met verswarende omstandighede, maar wel skuldig aan aanranding.
Volgens hom het hy uit selfverdediging opgetree toe hy die aand van 8 September 2022 vir Mervin Jumaats buite ‘n spazawinkel met ‘n mes gesteek het.
Volgens hom het Jumaats hom sonder rede vasgegryp en met ‘n kierie geslaan. Hy het toe drie keer na hom gesteek en is daarna na die polisie om ‘n saak teen hom te gaan maak.
Mervin Isaacs het getuig dat die skermutseling tussen Wolmarans en Jumaats binne die winkel plaasgevind het, en nie buite soos wat Wolmarans getuig het nie. Volgens hom het hy net arms gesien wat swaai en nie gesien dat Wolmarans vir Jumaats van enige geld beroof het nie.
Die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, vra die hof vir Wolmarans se skuldigbevinding op die aanklag van roof met verswarende omstandighede terwyl Wolmarans se regshulpprokureur, Eugene Roos, van mening is dat hy net aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig kan wees.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’