VAN WYKSDORP NUUS - "Vanaand is ‘n droom – ‘n lang droom – wat uiteindelik waar geword het…”
Aan die woord is Nicolas Crisp, voorsitter van die Van Wyksdorp Ontwikkelingsinstituut (VDI), wat met behulp van ruim fiansiering van die Gouritz-groepsbiosfeer-reservaat (GCBR) by die VDI se eerste sertifikaatoorhandigingsplegtigheid 74 VDI-opleidingsertifikate aan 47 ontvangers uitgedeel het.
Die kursusse sluit erosiebeheer en veldrehabilitasie, indringerbeheer, entrepreneurskap en tuinuitleg in en baie van die deelnemers het meer as een sertifikaat ontvang.
“Die doel van die VDI is om gesonde, geskoolde arbeid op te lei en aan die arbeidsmark beskikbaar te stel,” sê Crisp. “Die VDI-raad verteenwoordig die Van Wyksdorp-gemeenskap en Kannaland, maar wil ook die groter GCBR-familie buite ons grense insluit, veral wat omgewingsgerigte opleiding betref.” Altesaam 26 van die sertifikaatontvangers is boorlinge van Van Wyksdorp, terwyl 21 uit ander areas kom.
Die heel eerste sertifikaat is oorhandig aan Darryn Adriaanse, wat al vier die kursusse bygewoon het en die heel eerste persoon was wat ‘n VDI-sertifikaat ontvang het. “Ons het geleer dat baie plante vernietig is en dat ons generasie die vermoë het om die grond te help herstel. Oor 20, 30 jaar sal ons vir ons kinders ons nalatenskap kan wys en hulle kan vertel hoe ons ‘n verskil gemaak het,” vertel hy trots.
Nog 'n ontvanger, Elroy October, is reeds drie jaar verbonde by die Jobs for Carbon-projek (J4C) in Van Wyksdorp. “Ek het baie kennis opgedoen wat vir my deure kan oopmaak by toekomstige werkgewers. Ek het ook geleer dat ek ‘n eie besigheid kan begin, want hier is baie geleenthede wat ek met my nuwe kennis kan aangryp.”
Grietjie Braaf, wat ook ‘n sertifikaat ontvang het, was werkloos voor sy die kursus bygewoon het.
“Sedertdien het ek by ‘n plaaslike boukontrakteur begin verfwerk doen. As ek nie die kursus gedoen het nie, sou my potensiaal nie raakgesien gewees het nie,” sê sy.
Marilize Beer van Trapsuutjies-projekte, en Mary Carr, wat verantwoordelik is vir die gemeenskapsprojek, Rethink Bags, het die entrepreneurskapkursus deurloop en elk ‘n bevoegdheidsertifikaat ontvang vir ‘n besigheidsplan wat hulle moes indien.
Benewens die opleidingskursusse wat die VDI vanjaar begin aanbied het, is daar volgens Crisp groot planne vir die toekoms wat ‘n sportveld, ‘n vroeë-kinderontwikkelingsentrum en gemeenskapstuine insluit.
Kontak Gerhard Oosthuysen by 083 310 6501 of gerhardt@vwddi.co.za vir inligting oor die kursusse wat in 2019 aangebied word.
'Ons bring jou die nuutste Van Wyksdorp, Klein-Karoo nuus'