Update
PRINS ALBERT NUUS - Die 8-jarige meisie van Prins Albert, wat na bewering deur haar oupa verkrag is, het in grafiese detail aan haar klasonderwyseres beskryf wat met haar gebeur het.
Dit is waarom die juffrou Dinsdag 'n protesvertoning voor die plaaslike landdroshof gereël het waar die 56-jarige man op dié aanklag verskyn het. Dit was sy tweede verskyning. Onderwysers en inwoners van die dorp, het aan die openbare protesaksie deelgeneem.
"Genoeg is genoeg," het Sammy Delport, 'n bekende in onderwyskringe hier, gesê terwyl die groep, wat buitelandse onderwysstudente ingesluit het, slagspreuke op plakkate omhoog gehou het.
Binne het die oupa se regshulpprokureur, Wentzel Botha, aan landdros Tom Claassen gesê sy kliënt gaan 'n formele borgtogaansoek bring, "hoewel ek aan die beskuldigde verduidelik het dat hy teregstaan op 'n Bylaag 6-aanklag".
"Ons moet iets doen om hierdie soort misdaad stop te sit en ons gevoel hieroor te wys," het die klasonderwyseres aan Oudtshoorn Courant gesê.
Sy het vertel dat die beweerde verkragting op die lappe gekom het nadat bure glo gehoor het dat die kind skree. "Oupa moenie dit doen nie; dit maak my seer!"
"Ek maak seker dat die kinders in my klasse weet wat hulle regte is ten opsigte van hul eie liggaam, dat 'mý lyfie' net aan 'mý' behoort.
Dit was egter vir my duidelik iets is verkeerd toe sy sedert verlede jaar al swakker presteer het; ook dat sy stil geword het. Toe ek van die toedrag van sake te hore gekom het, het ek haar gevra of sy verstaan wat met haar gebeur het. Haar oë het vol trane geword toe sy vir my in detail vertel het wat haar oupa gedoen het."
Die onderwyseres het gesê die mediese verslag oor die meisietjie se toestand en die skade wat aangerig is, is "gruwelik, ontstellend".
"Hierdie dinge het nou te ver gegaan. Die hof moet weet in watter ernstige lig die inwoners van die dorp hierdie oortredings beskou."
Claassen het dié verrigtinge uitgestel tot 4 Maart vir 'n formele aansoek om borgtog. Die man, wat byna twee weke gelede in hegtenis geneem is, bly tot dan in aanhouding. Die staatsaanklaer is Marvon de Vos.
Lees 'n vorige artikel: Oupa verkrag glo kleindogter
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'