Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie ondersoek 'n klag van roekelose en nalatige bestuur na 'n botsing Maandagoggend tussen 'n polisievangwa en 'n Volkswagen Polo.
Volgens sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die ongeluk OM 07:45 by die kruising van Voortrekkerweg en St. Georgesstraat gebeur.
Daar was altesaam ses persone en twee honde in die ongeluk betrokke. Twee polisiebeamptes, twee manlike aangehoudenes en die twee polisiehonde was in die vangwa en 'n man en vrou in die VW Polo.
Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant op die toneel het die vangwa op sy dak in St. Georgesstraat gelê en was paramedici reeds besig om twee mans wat agter in die vangwa was te behandel. Hulle is altwee vir nek- en rugbeserings behandel en dit blyk dat die een man sy been in die ongeluk beseer het.
Dit is onbekend wat die aard van die polisiebeamptes se beserings is. Die twee honde, 'n Alsatian en 'n Rottweiler, is na 'n plaaslike veearts geneem. Na wat verneem word, het hulle geen ernstige beserings nie en is hulle vir skok en kneusplekke behandel.
Jurgen Capelle, die insittende van die VW Polo het op die toneel gesê hy en sy vriendin het in Voortrekkerweg in De Rust se rigting gery toe die ongeluk gebeur het.
"Die vangwa het van Bridgton se kant af gekom en reg voor ons by St. Georgesstraat ingedraai. Die voertuie het gebots en die bakkie het op sy dak te lande gekom."
Capelle het die week op sy Facebook-blad gesê dat hulle gelukkig is dat hy en sy vriendin nie ernstig seergekry het nie. Hy het sy voet in die ongeluk gebreek en kneusplekke aan sy lyf opgedoen.
Die polisievangwa het op sy dak te lande gekom.
Lees 'n vorige artikel hier: Polisievoertuig in botsing
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'