OUDTSHOORN NUUS - Maart 1969 Die Raubenheimerdam vorder en daar is dalk olie onder die grond by De Rust.
Saterdag 1 Maart
Volgens die kontrakteur, mnr. Kelley, verloop die konstruksie van die Raubenheimerdam volgens plan. Teen die begin van 1971 behoort die dam voltooi te wees. Die firma Dawson en Dobson bring die reuse-pype per vragmotor na die perseel.
Soekor se voorsitter, mnr. G. J. Kuschke laat blyk dat daar in ons distrik ondergrondse oliebronne kan wees, grondformasies dui daarop. Dit wil voorkom of dit in die De Rust-omgewing kan wees.
Die Gamkarivier se vloed het Calitzdorp Dinsdag bereik en die padverkeer op die Huisrivierpas en die padverkeer tussen Calitzdorp en Vanwyksdorp ontwrig. Inwoners in die weg van die vloed, moes tydelik ontruim. Teen middernag Dinsdag was die vloed verby. Calitzdorp se besproeiingsdam het weer leiwater.
'n Entstof teen die Hong Kong-griep sal binne twee weke in Oudtshoorn wees. Hierdie griep woed in die Kaap. Die entstof is aangevra as 'n voorsorgmaatreël.
Woensdag 5 Maart
Leon Oosthuizen (76 jaar) is een van die min oorlewendes van die afgryslike Slag van Delvillebos by die Sommerivier in Frankryk. (1916). Hy het eers in Egipte geveg waarna hy na Frankryk is waar hy swaar gewond is en 2 jaar lank in 'n Engelse hospitaal versorg is. Hy leef al 50 jaar in 'n rolstoel. Op 22 Februarie 1919 is hy getroud en het hy saam met sy vrou na sy tuisdorp teruggekom. Hulle woon in 'n kamer aan die onderpunt van Queen Street, (Vandag Baron van Reedestraat.)
'n Australiese fietsryspan gaan Oudtshoorn besoek – die eerste internasionale fietsryspan wat hier kom deelneem. Op 19 April gaan hulle hier teen die beste provinsiale span meeding. Hulle sal deur die stadsraad onthaal word en na besienswaardighede vergesel word. Fietsry van 'n hoë standaard kan verwag word. Na hulle besoek aan die dorp, gaan die Aussies vir die eerste keer teen 'n SA fietsryspan te staan kom.
Die foto en onderskrif wat in Maart 1969 in die Oudtshoorn Courant verskyn het. Foto: CP Nel Museum
Saterdag 8 Maart
Suikerbult gaan volgens Basil Johnson, voorsitter van die munisipaliteit se Gesondheidskomitee finaal ontruim word. Dertig huise gaan op plase deur die Afdelingsraad gebou word waar die oorblywende inwoners, wat op plase werk, kan woon.
Op die 191ste volstruisveerveiling is 'n totaal van 17,386 lb vere vir R107,024 verkoop, 'n verbetering in die gemiddelde prys van verlede jaar se R5.44, na R6.16 per lb. Frans le Roux, Jurgens Schoeman en Pieter (Jok) Terblanche se wit vere was van 'n hoë gehalte.
Saterdag 15 Maart
'n Twintigjarige plaasbestuurder, Pieter Eygelaar uit Graafwater, wat op mnr. J. P. Bekker se plaas Kruisrivier-Wes gewerk het, het verlede Saterdag om 1.30nm die berg ingestap en nie weer teruggekom nie. Hy wou glo die fontein gaan soek wat die plaas van water voorsien. Van Sondag tot Dinsdag het verskillende soekgeselskappe hom in gure weer probeer opspoor en 'n helikopter is later ingespan.
Die liggaam is ontdek waar dit in die onherbergsame Goukamakloof in 'n poel water gelê het. Die vlieënier het duim vir duim al langs die loodregte kranse afbeweeg om drie manne met toue te laat afsak om die liggaam in die helikopter te laai. Dit was 'n lewensgevaarlike en spannende reddingspoging.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'