OUDTSHOORN NUUS - September 1968: Die tekens van Lente is daar; die gewilde rolprent Hoor my Lied trek rekordgehore landwyd; 'n eksentrieke mnr. Wielman Saayman besoek die dorp; 'n bekende sakeman sterf; die bekende skoolraadskantore se goed word opgeveil; Calitzdorp is in die nuus met die benoeming van 'n vrou.
4 September 1968
Die Langenhoven Handelskool gaan die Lente vier met vlotte, drompoppies en 'n kadetorkes wat in Hoogstraat gaan afbeweeg. Blomme gaan by die ouetehuis en die hospitaal afgelewer word. Die drompoppies sal plek-plek 'n vertoning lewer. Daar sal vier prinsesse wees: Isabel le Roux, Elize Gericke, Gisela Schlosser en Marlene Kemp.
Die rolprent Hoor my Lied met Gé Korsten in die hoofrol, het alle bywoningsyfers oortref en in die proses die geliefde en uiters gewilde Sound of Music verbygesteek. Kavalier Films beplan om die rolprent ook in die VSA en Engeland te versprei.
'n Publieke veiling van die inhoud van die Skoolraadskantoor op die h/v Voortrekkerweg en Queen Street vind op 7 September plaas. Die bekende skoolraadskantore gaan dus sy deure sluit en na die nuwe gebou verskuif. Duvenhage & Duvenhage is die afslaers.
7 September 1968
Wielman Billy Saayman is 'n man wat 36 lande per fiets verken het en in die proses 180 000 myl afgelê het en 11 trapfietse disnis getrap het. Nou besoek Wielman laerslole landswyd om kinders te vertel van sy avonture, hy vertoon films om verre lande aan hulle bekend te stel. Sy skoolbesoeke het hom 97 000 myl laat aflê.
Die Prince Vincent-tak in Oudtshoorn meer as 50 jaar gelede.
Hy gaan nou die Laerskool van Reede besoek. As jongman het hy die Alpe met 'n driespoedfiets oorgesteek en in 1948 het hy in 124 dae die lang reis van Londen na Kaapstad aangepak. Hy het 7 jaar lank in Amerika en Kanada gewerk. Hy het ook 19 lande met 'n motorfiets deurkruis In 1970 wil hy Palestina gaan verken. Wielman Saayman het in Calvinia grootgeword.
Bloeisels het in Calitzdorp se appelkoosboorde verskyn, maar op 30ste Augustus het mnr F.J. Pretorius die eerste ryp appelkose op sy grond in Wesoewer gepluk. 'n Ongewone verskynsel: normaalweg word appelkose in November gepluk.
11 September 1968
Carl Kleinschmidt, direkteur van Prince Vintcent en invloedryke sakeman van die Suid-Kaap, is gister op 72 jaar skielik aan 'n hartaanval in die hospitaal oorlede. Die Kleinschimdt-familie is van 1894 aan die firma verbonde toe sy pa D J Kleinschmidt die leisels van die Prince Vintcent-tak in Oudtshoorn oorgeneem het. (Die firma is in Mosselbaai gestig). Prince Vintcent is die oudste familiesaak in die land en die oudste onderneming in die Suid-Kaap.
Carl was 'n oud-leerling van die Boys' High en het in 1913 by Prince Vintcent begin werk. Hy het heel onder aan die leer begin en op op 13 Oktober 1939 sy pa as direkteur opgevolg. Hy was ook verantwoordelik vir die dorp se nuwe gholfbaan wat op 'n stuk rou veld uitgelê is.
Hy het hom ook beywer vir 'n diepseehawe op Mosselbaai 'n droom wat binnekort waar sal word. Hy was 'n stigter van die Rotariërs op die dorp en het 'n hoë rang in die Vrymeselaars bekleë.
14 September 1968
Mev J.N. Brink is die eerste vrou wat as raadslid van die Calitzdorp-munisipaliteit aangesetel is. Die dorpsraad bestaan reeds 55 jaar en om 'n vrou as raadslid te kry is groot nuus.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'