OUDTSHOORN NUUS - Die langsdienende werknemer van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Brian Weyers (62), tree einde vanjaar na 43 ononderbroke diens af.
Weyers het in 1978, toe hy slegs 19 jaar oud was, as 'n algemene werker by die munisipaliteit aangesluit.
Hy is later in 'n toesighouersposisie aangestel en sê dit voel soos gister toe hy vir die eerste keer by munisipale hekke ingestap het.
"Dis net deur God se genade dat ek op hierdie hoë ouderdom steeds in staat is om te werk. Ek gaan beslis my kollegas mis wat dit oor die jare 'n plesier gemaak het om hier te werk- ook aan die munisipale amptenare wat 'n impak op my lewe gemaak het. My oorlede pa, Johannes Weyers, het my van kleins af geleer om altyd te glimlag as jy met mense praat. As gevolg van hom is ek die persoon wat ek vandag is.
"Weyers, wat ook tong-in-die-kies onder sy kollegas as die 'burgemeester' of 'MM' bekendstaan, sê dat hy na sy aftrede vir eers bietjie gaan rus voor hy nuwe uitdagings gaan aanpak.
Die waarnemende munisipale bestuurder, Reginald Smit, het Weyers bedank vir sy onbaatsugtige diens en hom alle voorspoed vir die toekoms toegewens.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'