Update
DE RUST NUUS - Die saak teen twee mans en twee jeugdiges van De Rust wat daarvan aangekla word dat hulle twee persone in 'n plaashuis buite De Rust met messe gedreig en beroof het, is in die Oudtshoorn-landdroshof vir verdere ondersoek tot 14 Februarie uitgestel.
Die plaas behoort aan 'n 20-jarige man en sy vriendin (18).
Die vriendin en haar broer, wat met die boerdery help, was alleen by die huis ten tye van die voorval.
Die 23-jarige Niklaas Witbooi, Jason Jantjies (24) en die twee minderjariges van onderskeidelik 16 en 17 jaar het glo op Maandag 8 Januarie by die plaashuis ingebars nadat die eienaar van die plaas vertrek het om van sy werkers huis toe te neem.
Hulle staan tereg op aanklag van roof met verswarende omstandighede.
Die vier het die huis geplunder, geld geëis en met fietse, 'n skootrekenaar, selfoon, kontant en juwele op die vlug geslaan.
Feitlik al die items is kort daarna deur die polisie teruggevind.
Die Oudtshoorn Courant het in Januarie berig dat die jong vrou, se vriend die Maandagmiddag net voor vyfuur De Rust toe gery het om werkers af te laai.
Sy en haar broer (26) wat met die boerdery help, het televisie gekyk toe vier mans gewapen met lang messe, die vertrek binnestorm en geld eis.
"Die een met swart klere het my opgepluk en beveel om hom te wys waar al die waardevolle goed is, hy het ook begin om my te betas.
"Twee van hulle het my broer beveel om op die bank te bly sit."
Volgens haar het hulle glo 'n pistool vir haar broer gewys.
Die vermeende aanvallers wou die vrou se iPhone ook steel, maar kon nie die simkaart uit kry nie.
Na die boewe weg is, het sy haar vriend gebel.
Die vriend het toe die De Rust-polisie gebel en is saam met hulle na die huis toe.
Die saak dien voor landdros Johan Steynberg.
Die 16-jarige verdagte is in die sorg van sy ouers terwyl die ander drie in aanhouding bly.
Lees 'n vorige artikel: 4 Vas na plaasroof
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'