OUDTSHOORN NUUS - Hy weet die hof is regverdig en vra dat die beskuldigde behoorlik gestraf word sodat hy in die tronk oor sy sondes kan dink en te besef dat ‘n mens nie moet steel om ‘n lewe te maak nie.
So het die 97-jarige Petrus Johannes Fourie, stiefoupa van die 28-jarige Donovan du Toit van Mosselbaai, verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof getuig.
Du Toit het skuldig gepleit op die aanklagte dat hy sy stiefoupa se kluis met R400 000 kontant, ‘n vuurwapen en ammunisie, gesteel het omdat hy geld nodig gehad het om sy dwelmskuld te betaal.
Du du Toit, wat erken het dat hy aan dwelms verslaaf was, het in ‘n pleitverduideliking erken dat hy die betrokke dag saam met sy 17-jarige broer die kleinerige kluis van Fourie gesteel en in die veld oopgekap het, maar in die hof getuig dat hy ‘n sakeman van Oudtshoorn R30 000 betaal het om dit oop te kry. Hy het nooit die geld getel nie het hy getuig.
Die hardhorende Fourie, bekende oud-onderwyser van Oudtshoorn, het Woensdag breedvoerig getuig dat die R400 000 geld was wat hy oor byna 60 jaar gespaar het en nie ‘n sent daarvan teruggekry het nie.
Op ‘n vraag van die staatsaanklaer, Hyron Goulding, watter vonnis gepas sal wees het hy gesê dat die hof regverdig is en gevra om Du Toit behoorlik te straf sodat hy in die tronk oor sy sondes kan dink en besef dat ‘n mens nie moet steel om ‘n lewe te maak nie.
Goulding het die hof vir ‘n vonnis gevra wat nie net vir Du Toit, maar ook andere sal afskrik. Volgens die staat is die misdaad ook fyn beplan. Die beskuldigde het sy ouma, Fourie se tweede vrou, gebel dat sy ‘n pakkie by iemand in die straat moes gaan kry. Hy en sy jonger broer is toe die huis binne en het die kluis verwyder.
Du Toit se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die hof versoek om in ag te neem dat dwelms ‘n rol gespeel het en die beskuldigde sy stiefoupa en sy hele familie om verskoning gevra het vir wat hy gedoen het.
Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê dat Du Toit aan baie ernstige misdrywe skuldig bevind is.
Hy het werk gehad en dit was nie nodig om ‘n ou man se swaarverdiende geld te steel en uit te mors nie.
Hy is dertien jaar tronkstraf opgelê vir diefstal en tien jaar op die twee ander klagtes wat nie samelopend uitgedien kan word nie.
Die hof het ook, op die staat se versoek, ‘n vergoedingsbevel gelas vir die verkoop van alles wat Du Toit gekoop het, waaronder ‘n motor, motorfiets en twee duur selfone, en die geld aan die klaer besorg word.
Kapt. Deon Bouwer was die ondersoekbeampte in die saak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'