OUDTSHOORN NUUS: ‘n 59-jarige man van Smartie Town in Oudtshoorn is Vrydag in die streekhof vir 25 jaar tronk toe gestuur nadat hy aan verkragting van ‘n 12-jarige meisie skuldig bevind is. Die kind is nie aan hom verwant nie.
Kleinbooi Stols het die aand van 17 Augustus 2019 die kind gevra om saam met hom uit die huis te gaan nadat sy vrou en kinders al gaan slaap het. Hy het haar om seks gevra en toe sy weier, het hy haar met die dood gedreig. Hy het toe haar mond toegedruk, ontklee en verkrag.
Stols se vrou het getuig dat hy nooit die betrokke aand uit die huis gegaan en dat die kind ‘n storie opmaak.
Streeklanddros Daniel Boks het egter bevind dat die kind ‘n geloofwaardige getuie was en selfs onder kruisverhoor by haar weergawe gehou het. Die hof het die getuienis van die beskuldigde sowel as dié van sy vrou verwerp.
Die hof het egter bevind dat lewenslange gevangenisstraf onvanpas sal wees en wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om daarvan af te wyk.
Die hof het gelas dat Stols se naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word en hom ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’