PRINS ALBERT NUUS - Die strategiese ontplooiing van lede van die Prins Albert-polisie op die R407 het uitstekende resultate opgelewer met die arrestasie van twee verdagtes en die konfiskering van 'n groot besending dwelms.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, het lede Saterdag 9 September omstreeks 07:10 'n minibustaxi by 'n voertuigkontrolepunt afgetrek.
'n Deursoeking van die voertuig het gevolg, wat gelei het tot die ontdekking van 205 bondels khat.
Volgens hom was die dwelms verbind met 'n passasier op die taxi en is die persoon in hegtenis geneem op aanklag van handel in dwelms.
"Die lede het met die soektog voortgegaan en 348 gram dagga in 'n sak van 'n vroulike passasier gevind. Sy is ook in hegtenis geneem en staan tereg op aanklag van handel in dwelms."
Die Wes-Kaapse polisiebestuur het hierdie beslagleggings en inhegtenisnemings verwelkom. Hierdie items bly sleutelbydraers tot ernstige en gewelddadige misdade in die streek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’