OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen twee mans van Zimbabwe wat met 1,4 ton perlemoen in hul besit in hegtenis geneem is, is Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof vir verhoor tot Desember uitgestel.
Die twee verdagtes, Mncedisi Mpofo (35) en Mthandazo Dube (35), is deur die sigbare polisiëringseenheid van Ladismith in hegtenis geneem nadat hulle 'n 3-ton vragmotor met 'n Gautengse registrasienommer van die pad getrek het.
Daar was altesaam 24 houers gedroogde perlemoen in die vragmotor met 'n geraamde waarde van R7,3 miljoen.
Die perlemoen is aan die departement van landbou, bosbou en vissery oorhandig.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en is tot 11 Desember uitgestel na die mededeling van die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, dat die direkteur van openbare vervolging (DOV) nie 'n pleitooreenkoms wat die twee beskuldigdes met die staat wou aangaan, aanvaar het nie en beslis het dat hulle vervolg word en in aanhouding moet bly.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'