Gallery Update
OUDTSHOORN NUUS - Twee pasiënte is met ernstige beserings na 'n hospitaal in George geneem na drie voertuie Woensdagmiddag in 'n kettingbotsing op die George-pad betrokke was.
Volgens 'n familielid van Nico van der Merwe, die bestuurder van 'n dubbelkajuitbakkie, het Van der Merwe oor 'n bult gery en agter 'n vragmotor, wat vir padwerke gestop het, stilgehou.
Kort nadat hy stilgehou het, het 'n insleepvoertuig van agter teen sy bakkie vasgery. Die slag het die bakkie teen die agterkant van die vragmotor geslinger. 'n Ystertol wat agter op die bakkie was, het deur die agterkant van die kajuit gebars en die agterste sitplek vorentoe gedruk.
Van der Merwe was alleen in die voertuig. Volgens die familielid, wat ook op die toneel was, kon Van der Merwe nie uit die gefrommelde bakkie kom nie. "Hy het probeer om die ruit van die bakkie uit te skop, maar hy kon nie. Hy het oorgeskuif na die passasiersitplek en paramedici het hom, na hy behandel is, uit die bakkie gehaal."
Die wrak van Nico van der Merwe se bakkie.
Daar is gisteroggend bevestig dat Van der Merwe Woensdagaand 'n operasie ondergaan het waartydens 'n staalpen van 38 cm en skroewe gebruik is om sy gebreekte femur te herstel.
Hy het ook sy skouer ontwrig en 'n rugbesering opgedoen. Volgens die familielid is daar ook 'n gapende wond aan Van der Merwe se maermerrie wat kommer by die dokter gewek het. Hy sal vir drie dae in die intensiewesorgeenheid bly.
Die insleepvoertuig het na die botsing in die veld beland waar die bestuurder, Marius Blignaut, in die kajuit vasgekeer was. Nooddienspersoneel het gespook om hom met meganiese kake te bevry. Sover vasgestel kon word het hy frakture aan sy heup en bobeen opgedoen. Hy was alleen in die voertuig.
Die insittendes van die voorste vragmotor het geen beserings opgedoen nie.
Nooddienspersoneel bevry die bestuurder van die insleepvoertuig met meganiese kake.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'