OUDTSHOORN NUUS - ‘n Man van Dysselsdorp met 19 vorige veroordelings wat skuldig gepleit het op ‘n aanklag van diefstal vanuit ‘n voertuig is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot 18 maande gevangenisstraf gevonnis.
Wilfred Harmse, wat tans ‘n vonnis van twee jaar uitdien vir die verbreking van paroolvoorwaardes, het in sy pleitverduideliking erken dat hy die aand van 15 Desember verlede jaar verby die huis van Mervin Andries gestap en besluit het om by 'n motor in te breek.
Een van die voertuig se deure was oop waarna hy die battery, ‘n pomp en flits ter waarde van R1 540 gesteel het.
Hy wou dit gaan verkoop omdat hy die geld nodig gehad het en is deur die polisie gearresteer. Hy erken dat hy geweet het wat hy doen is verkeerd.
Die staatsaanklaer, Cameron Rhoode, het die hof vir 'n lang tydperk agter tralies gevra omdat vorige vonnisse duidelik nie die beskuldigde tot ander insigte gebring het nie.
Harmse se regsverteenwoordiger, Cindy Murray-Smith, het vir ‘n opgeskorte of gedeeltelike opgeskorte vonnis gevra.
Landdros Vaughn Shone het in sy uitspraak gesê dat hy nie Harmse se vorige veroordelings teen hom sal hou nie en dat hy skuldig gepleit het en daarmee ‘n mate van berou toon.
Die hof het egter bevind dat ‘n opgeskorte vonnis nie ‘n gepaste vonnis sal wees nie.
Harmse wat reeds by ‘n vorige geleentheid onbevoeg verklaar is om ‘n vuurwapen te besit, is tot 18 maande gevangenisstraf gevonnis.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'