Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit, in samewerking met ander belanghebbendes, het verlede Vrydag die 16 dae van aktivisme teen geslagsgebaseerde-veldtog van stapel gestuur.
Die veldtog strek van 25 November tot 10 Desember en vanjaar se tema is 'Count me in: Together moving non-violent South Africa forward'.
Salomé Plaatjies van Plumbline Restoration, 'n organisasie wat hulle daartoe verbind om ondermeer slagoffers van geweld by te staan, was die motiveringspreker by die geleentheid.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit sê, Plaatjies het uit persoonlike ervaring gepraat toe sy die gehoor toegespreek het en hulle vertel hoe 'n lewe van mishandeling haar gehelp het om 'n sterker mens te word.
"Om mishandel en verwerp te word is 'n aaklige ervaring.
"Ek wil vandag probeer om almal wat hier sit met my storie te motiveer. Ek wil hê mens moet weet dat die situasie waarin jy jouself bevind wel kan verander en dat jy jou storie kan gebruik om ander te help en te motiveer."
Die onderburgemeester, Noluthando Mwati, was ook 'n gasspreker by die geleentheid en het die gemeenskap gevra om saam te staan teen die geweld teen vroue en kinders.
Royden Boonzaaier, Oudtshoorn-area se hofbestuurder, het gesê die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling gaan 'n 'My Safety Plan' in die streek van stapel stuur met die oog op opvoeding oor geslagsgebaseerde geweld.
"Die departement sal, in samewerking met Vroue op Plase, 'n inligtingsessie oor seksuele misdrywe hê.
"Die 16 dae van aktivisme-veldtog sal op 10 Desember eindig en die minister van justisie, M. Masutha, sal die geleentheid in Gouda bywoon."
Ander belanghebbendes wat ook die geleentheid bygewoon het was Shandré Harris van die Oudtshoorn Youth Café, Doc Skosana, waarnemende bestuurder van maatskaplike dienste in die Suid-Kaap, en Chrissie Baptiste wat die departement van maatskaplike dienste verteenwoordig het.
Lees 'n vorige artikel: 16 dae van aktivisme-veldtog begin
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'