OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Spieskamp, Schoemanshoek wat 'n 28-jarige vrou verkrag het, is Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Karel Piedt (45) het die aand van 27 November 2020 slaapplek by die klaagster en haar saamleefmaat gaan soek.
Hy en die man het op die vloer in die sitkamer geslaap nadat hulle drie saam gedrink het, en hy is later na die slaapkamer waar hy die vrou verkrag het.
Piedt het ontken dat hy die aand saam met die klaer en haar kêrel gedrink het. Volgens hom was hy nie eers bewus dat die vrou in die huis was nie. Toe hy later met haar kêrel se toestemming na die slaapkamer gegaan het omdat hy koud gekry het, het hy op die kant van die bed gaan sit en skielik die vrou hoor skree. Hy het ontken dat hy aan haar geraak het.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om nie af te wyk van die minimum vonnis van tien jaar nie omdat Piedt op parool was toe hy die misdaad in 2020 gepleeg het.
Hy is in 2016 vyf jaar tronkstraf opgelê vir poging tot verkragting.
Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê Piedt se familie en die inwoners van Spieskamp moet teen mense soos hy beskerm word. Hy het volgens die ondersoekbeampte, ao. Anton Kock, net soos in 2016, met dieselfde modus operandi opgetree en is duidelik ‘n gevaar vir die gemeenskap van Spieskamp sowel as vir sy familie.
Hy toon ook geen tekens van berou nie en tot die einde geglo dat hy onskuldig is.
“Verkragting is die ergste vorm van inbreuk maak op ‘n persoon se privaatheid en vonnisse daarvoor moet die gemeenskap verhoed om die reg in eie hande te neem,” het die landdros gesê.
Sy kon geen wesenlike of dwingende omstandighede vind om af te wyk van die minimum vonnis nie en Piedt die maksimum vonnis van vyftien jaar vir ‘n eerste oortreder opgelê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'