OUDTSHOORN | GEORGE NUUS - Die polisie doen als in hulle vermoë om die 14-jarige Mishanay Beronique Jansen van Oudtshoorn, wat sedert Sondag vermis is, op te spoor.
Volgens kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is sy sedert Sondag 16 Febraurie vermis.
“Die ondersoekbeamptes was vanoggend weer by haar familie. Nuwe inligting is besig om opgevolg te word en dit blyk dat Mishanay moontlik in George kan wees.”
Volgens hom het sy Sondag in ‘n bottelgroen Volkswagen Jetta saam met twee mans geklim en is sedertdien nog nie weer gesien nie.
Mishanay se oupa, André Rondganger, het vanoggend aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hy en sy vrou baie bekommerd is oor hul kleindogter se gesondheid.
“Sy was agt maande oud toe sy met nierkanker gediagnoseer is. Gevolglik is een van haar niere verwyder. Sy is eintlik baie gesond, maar as sy haar in onhigiëniese omstandighede bevind kan sy baie siek raak,” het hy gesê.
Volgens Rondganger is hulle bang dat sy dalk saam met gevaarlike misdadigers kan wees wat haar seer kan maak.
“Ek wil net hê dat my kind veilig kan huis toe kom.”
Mishanay was laas verlede Sondag in Siayabongastraat in Bongolethu gesien. Sy het lang swart verlengstukke in haar hare vasgevleg.
Enige persoon met inligting oor waar sy haar mag bevind word gevra om dringend met Sersant Corné Thysse by 082 3350 606 in verbinding te tree.
Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
Mishanay Beronique Jansen
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'