OUDTSHOORN NUUS - Die 12 mans wat op drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is, nadat hulle die eienaars van drie spazawinkels in Bridgton, van kontant en selfone beroof het, is Maandag na byna drie jaar in die Oudtshoorn-streekhof gevonnis.
Streeklanddros Neels Nortjé het om verskoning gevra vir die feit dat die saak so lank geduur het, maar bygevoeg dat dit om verskeie onvermydelike redes was.
Hieronder is die verandering van regsverteenwoordigers, een van die beskuldigdes se regsverteenwoordiger wat by hooggeregshofsake betrokke was en hy self by tye nie beskikbaar was nie.
"Genadiglik kan ons vandag klaarmaak," het hy gesê.
Die twaalf is op die getuienis van die klaers en 'n ooggetuie skuldig bevind. Nie een van hulle het in die saak getuig nie en die hof het bevind dat hulle in groepsverband opgetree het.
Die 12 het op 10 Januarie 2017 onder 'n boom op 'n erf in Petunialaan gesit en eers vir Nuzimur Hoque van twee selfone en R150 kontant beroof.
Daarna het hulle vir Mir Hussain met 'n stok geslaan en van R4 500 kontant en sy selfoon beroof.
En ook vir André van Wyk van R160 en 'n krat bierbottels beroof.
Cordwill May en Numfriano Meyer, wat jeugdiges was tydens die rooftog is elk vyf jaar gevangenisstraf opgelê wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.
Cheslin Bruintjies, Patrick Malgas, Dawid Swarts, Patrick Fortuin, Wayne Johannes en Johan Goliath, almal eerste oortreders, is tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis en op die derde klagte van roof vyf jaar gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.
Corné Kammies, Sam Olckers, Andrew Witbooi en Henry Fortuin wat nie eerste oortreders is nie, is op twee aanklagte elk tot vyf jaar gevonnis en op die derde aanklag van roof tot vyf jaar wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.
Die hof het in ag geneem dat die beskuldigdes reeds vir byna drie jaar in aanhouding was, wat gelykstaande is aan ses jaar tronkstraf.
Die klaers is genadiglik nie beseer nie en die optrede van die 12 was amateuragtig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'