Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Twaalf mense waarvan vyf kinders, die jongste kind is 'n babaseuntjie van drie maande, het vanmiddag net na 16:00 hulle blyplek in Klipbokweg, Bridgton, sowel as al hulle besittings in 'n brand verloor.
Die brand het in 'n opslaanhuis met vyf vertrekke ontstaan en binne 'n oogwink die hele struktuur verwoes. Die brand het na die huis van Willie Kobus versprei waar twee vertrekke beskadig is. Sy Opel Astra en 'n pakkamer het ook uitgebrand.
Mense wat in die struktuur was kon betyds uitkom, maar 'n hond en 'n kat wat verboureerd geraak het, het in die brandende struktuur ingevlug en doodgebrand.
Die gesinne wat nou dakloos is, het tydelike verblyf by familie gekry, maar het geen besittings oor nie.
Volgens Kobus was die brandweer binne minute op die toneel, maar 'n sterk wind het die brand baie vinnig laat versprei en hulle kon nie die struktuur red nie.
Kyk 'n video hieronder:
Die Opel Astra wat gebrand het.
Willie Kobus se huis is tydens die brand beskadig en sy motor het uitgebrand. Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'