LADISMITH NUUS - Die Ladismith-polisie het die laaste twee weke 10 persone in verband met verskeie diefstal- en inbraaksake in hegtenis geneem.
Volgens ao. Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith-polisie, het die polisie, in die jongste voorval, 'n 42-jarige man in verband met verskeie huisbrake in Van Wyksdorp, in hegtenis geneem.
"Die man is in die vroeë oggendure van 11 September in hegtenis geneem. Hy het by verskeie wonings in Van Wyksdorp in gebreek waar hy hoofsaaklik net kos gesteel het. Die man het in die veld weggekruip en die polisie het dag en nag na die man gesoek. Hy was op parool uit na hy ook vir diefstal skuldig bevind is. Hy het gister (Donderdag) in die hof verskyn," aldus Cederas.
Volgens hom het die polisie ook 'n deurbraak in 'n aantal huisbraaksake in die Hoeko-vallei gemaak.
"Ses verdagtes tussen 13 en 21 jaar is gearresteer. Eiendom ter waarde van R50 000 is teruggevind. Die huisbrake was tussen Julie en Augustus gepleeg. Hulle het juweliersware en skootrekenaars gesteel."
Op 29 Augustus in nog drie verdagtes, tussen 42 en 45 jaar oud, in hegtenis geneem.
"Die polisie was besig met 'n roetine patrollie toe hulle 'n Volkwagen Polo aftrek om te deursoek. Twee sakke met Ladismith Kaas is gevind. Hulle het ook reeds in die hof verskyn."
Stasiebevelvoerder, lt.kol. Jacobus Marthinus, het die lede betrokke geloof vir goeie werk.
Cederas het ook inwoners gevra om hul wonings te beveilig en seker te maak die bure of polisie word ingelig wanneer hulle vakansies of naweke weg gaan.
"Moet ook nie waardevolle items los waar dit sigbaar is nie."
Die Ladismith-polisie het die laaste twee weke 10 persone in verband met verskeie diefstal- en inbraaksake in hegtenis geneem.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Hessequa nuus'