OUDTSHOORN NUUS - 'n Jong man van Buffelsdrift, wat 'n 58-jarige vrou voor wie hy grootgeword het, in haar eie huis verkrag het, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof vir 10 jaar tronk toe gestuur.
Enrico Tiemie (22) het in die oggendure van 21 Desember 2019 die huis van die klaagster binnegegaan en die vrou wat in 'n dronkslaap was, verkrag.
Die vrou het getuig dat sy Tiemie herken het toe twee mans wat haar gille gehoor het, met 'n selfoon deur 'n skrefie van haar huis se deur lig gemaak het.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof vir die minimum voorgeskrewe vonnis van tien jaar gevra omdat geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan om daarvan af te wyk nie.
Hy het 'n hulpelose vrou verkrag en mens sou verwag dat hy sy aandeel sou erken, maar hy het nie.
"Hoewel die vrou onder die invloed van alkohol was bly verkragting verkragting. Dit is die vrou se reg om alkohol in haar huis te gebruik."
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê, "Tiemie is aan 'n skandalige weersinwekkende misdaad skuldig bevind na hy 'n vrou in die veiligheid van haar eie huis verkrag het. Verkragtings is 'n kanker in ons samelewing met statistieke wat skokkend hoog is."
Die landdros het bevind dat die getuienis voor die hof nie afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis regverdig nie.
Tiemie toon ook geen tekens van berou en ontken skuld ten spyte van verdoemende getuienis teen hom.
"Die beskuldigde se weergawe kan dus met veiligheid verwerp word," het die landdros gesê.
Tiemie is op 'n aanklag van huisbraak die voordeel van die twyfel gegee en onskuldig bevind.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'