OUDTSHOORN NUUS - Die Swartbergpas tussen Prins Albert en die Klein-Karoo is oop vir verkeer.
Motoriste moet egter daarop let dat dit nie beteken dat die teerpad (R328) tussen die Swartbergpas en Oudtshoorn ook oop is nie.
Daardie pad is steeds gesluit by De Kombuys waar ’n reuserotsstorting tans opgeruim word.
Die alternatiewe plaaspaadjie onder die rotsstorting is ook elke dag vanaf 07:00 tot 17:00 bot toe terwyl die opruimingswerk plaasvind.
Roete tussen Prins Albert en Oudtshoorn
Mense wat vanaf Prins Albert, via die Swartbergpas na Oudtshoorn of Calitzdorp toe wil ry, moet ’n ompad deur Kruisrivier neem. Die pad is net meer as 70 km lank vanaf Kobus se Gat tot in Oudtshoorn en reistyd is ongeveer 90 minute.
Die roete is begaanbaar vir gewone voertuie mits stadig gery word, en loop as volg: Aan die voet van die Swartbergpas, draai net na Kobus se Gat regs na Matjiesrivier. Volg die teerpad verby Swartberg Country Manor tot waar dit ’n grondpad word.
Volg die grondpad vir ’n aantal kilometer tot by Kruisrivier waar daar na die R62 afgedraai word.
(Daar is ook ’n afdraaipad kort nadat die teerpad opgehou het, maar daardie pad is volgens mense in die omgewing in ’n uiters swak toestand.)
Roete vanaf Oudtshoorn na Prins Albert
Vanaf Oudtshoorn se kant ry motoriste met die R62 langs in die rigting van Calitzdorp. Daar is drie grondpaaie wat na regs afdraai. Vermy die eerste twee en neem die derde een tot by Kruisrivier en dan vandaar terug na Kobus se gat en dan oor die Swartberge.
Inwoners van die omgewing waarsku daarteen om enige van die paaie snags of in reënweer te gebruik.
Kobus Lategan van Kobus se Gat aan die voet van die Swartbergpas het Maandag 21 Junie gesê hy is verheug dat die Swartbergpas weer amptelik oop is.
“Hier is dosyne motorfietsryers, stapgroepe en 4x4-manne wat die roete graag ry. Ons het verlede week ’n groep van 70 stappers gemis, omdat die pas gesluit was. Nou kan mense oor die berg ry. Ry net versigtig en moet asseblief nie jou woonwa of jou vragmotor probeer oorvat nie."
Let op voertuigbeperkings
Die Swartbergpas is nie geskik vir karavane en swaarvoertuie nie, en is heeltemal onbegaanbaar vir vragmotors met sleepwaens.
In ’n verklaring wat deur die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, uitgestuur is, word padgebruikers dringend gewaarsku om streng by die voorskrifte ten opsigte van voertuiglengte en -massa te hou wat op die Swartbergpas toelaatbaar is.
Die beperkings is aan weerskante van die pas op verkeersborde aangebring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’