OUDTSHOORN NUUS - Die ouditeurgeneraal het verlede week aangekondig dat Oudtshoorn-munisiplaiteit ‘n skoon oudit ontvang het vir die finansiële jaar 2024/2025.
Die finansiële jaar begin op 1 Julie en eindig op 30 Junie die volgende jaar. Dit is die tweede keer in drie jaar dat ‘n skoon oudit behaal is. Die vorige een was vir die 2022/2023 finansiële jaar.
Oudtshoorn se hoof van finansies, Gerald de Jager, het vandag telefonies aan Oudtshoorn Courant gesê hy is verheug oor die uitslag van die ouditeurgeneraal en beklemtoon dat dit nie moontlik sou wees as elke departement se finansies nie goed bestuur was nie.
“Om ‘n skoon oudit te behaal beteken dat daar by geen afdeling enige finansiële onduidelikhede, ongerymdhede of onbeantwoorde vrae kan wees nie. Daar is ‘n hele lys van kriteria en elkeen moet groen wees, m.a.w, aan al die voorskrifte voldoen, voordat die ouditeurgeneraal ‘n skoon oudit toeken,” het hy telefonies gesê.
Hy het bygevoeg dat Oudtshoorn nou skouers skuur met George en Mosselbaai wat ook skoon oudits ontvang het en gesê: “Ek wil vir elkeen wat bygedra het en hard gewerk het, om ons finansies te laat klop, bedank.”
Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Johan Allers, het op sy beurt gesê hy is dankbaar vir die uitkoms en het ook sy dank en waardering aan die amptenary oorgedra.
Alhoewel ‘n skoon oudit ‘n goeie aanduiding is van ‘n munisipaliteit se finansiële bestuur noem hy dat dit vir hom nie die alfa en omega van ‘n munisipaliteit is nie, aangesien skoon regering ook uiters belangrik en deurslaggewend is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’