OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn bied ’n magdom geleenthede om dit as ’n voorkeurbestemming vir toeriste te ontwikkel.
Dit was die kern van die boodskappe wat die huidige voorsitter van Oudtshoorn- en De Rust-toerisme, Roselle Crafford, asook Douglas Eriksen, hoof- uitvoerende beampte van Cango Wildlife, Woensdagaand, 19 Augustus, tydens Oudtshoorn-toerisme se algemene jaarvergadering gegee het.
Volgens Crafford het die toerismevereniging die afgelope jaar tientalle geleenthede geskep wat besighede tot hul eie voordeel kon geniet. Enkele van die geleenthede was deelname aan internasionale en nasionale toerisme ekspo’s en indabas, skakeling met ander streke se toerismekantore, netwerkgeleenthede, samewerkings-
ooreenkomste met verskeie organisasies en spesiale aanbiedinge.
Sy het verwys na die groot rol wat sporttoerisme in die dorp speel. Sy het ook lof betuig aan die span van die toerismekantoor onder leiding van die toerismebestuurder, Corleen Barnard, wat baie hard werk om Oudtshoorn te bemark en toeriste se besoek te verryk.
Eriksen het ook die nuus gedeel dat die perseel in Draaistraat waar Principia Skool destyds was, deur Cango Wildlife gebruik gaan word as ’n akademiese- en vaardigheidsentrum wat reeds op 1 September ingewy word.
Die hoogtepunt van die aand was die optrede van die bekende blogger, skrywer en motiveringspreker, Left Sleeve (Fanie Walkenshaw), wat wêreldwyd meer as twee miljoen volgelinge op TikTok, Instagram en Facebook het. Hy woon tans in die Tuinroete en beskryf Oudtshoorn as sy gunstelingdorp in die streek.
Hy het openhartig gepraat oor sy dwelmverslawing en alkoholisme en die rehabilitasieproses wat hom nou nugter en skoon van dwelms het. Hy het ook vertel van die uitdagings om oor die weg te kom en sukses te behaal met die regterkant van sy lyf wat nie normaal funksioneer nie as gevolg van ’n motorongeluk aan die begin van sy lewe waartydens sy twee sussies gesterf het.
“Ek is eintlik in twee gedeel. My regterkant is dié van ’n 43-jarige, maar my linkerkant behoort aan ’n seuntjie van 12,” het hy geskerts.
Hy het na talle suksesse in sy lewe verwys waaronder mode-ontwerper, professionele Poker-speler en posisies in die korporatiewe wêreld. Suksesse wat deur sy dwelmverslawing verwoes is, en hom genoop het om na rehabilitasie van nuuts te begin om homself te vestig.
Sy slotboodskap was: “Everyone is created for a purpose”.
Tydens die AJV is die toerismebestuur vir 2026 - 2027 ook aangewys. ’n Voorsitter sal met die bestuur se volgende vergadering verkies word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’