LADISMITH NUUS - Daar is ’n massiewe water tekort in Ladismith en daar word aansoek by die provinsiale regering gedoen om die gebied as rampgebied te verklaar.
Só het adv. Dillo Sereo, die munisipale bestuurder Dinsdag gesê.
Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit verleen reeds sedert 12 Maart hulp aan Kannaland.
Andrew Stroebel, burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, het bevestig dat daar op ’n daaglikse basis met die tegniese span van die Kannaland-munisipaliteit gekonsulteer word.
Hy het ook bevestig dat daar water van Zoar na Ladismith gery word. Volgens hom word daar deur die Kannaland-munisipaliteit aan ’n plan gewerk om water vanaf 12 boorgate aan die voet van die nabygeleë Klein Swarteberge te verseker.
‘n Ter plaatse ondersoek Dinsdag 18 Maart wat gelei is deur Sereo, Peter-George Rooi (speaker), Aletta Steenkamp (DA-raadslid), Jenovaan Booysen (Kannaland-ingenieur) en ander amptenare, het letterlik op die bodem van een van die dorp se opgaardamme geskied.
Booysen het genoem dat die Goewermentsdam sleg 65% van sy van 60 megaliter kan hou en is tans nie meer ’n bron van watervoorsiening nie.
“Ons is op die bodem waar daar slyk is. Dit moet eers verwyder word sodat die dam sy volle kapasiteit kan bereik.”
Rooi het gesê daar moes lankal meer spaarsamig met die water gewerk geword het.
“Ons boorgate het ons in ’n gemaksone laat verval. Vir 10 jaar het die boorgate ons 60% van ons water verskaf. Nou is die watertafels of watervlakke uitgeput. Ons sal nou moet dieper boor. Dis ’n natuurlike ramp wat ons getref het. Die Here sal ons ook hierdeur dra,” het Rooi gesê.
Steenkamp het genoem dat daar ’n terugvoeringsvergadering in die plaaslike stadsaal met die gemeenskap gehou sal word.
Volgens Sereo het gesê plaaslike besighede en plaasboere is ook gekonsulteer vir hulp.
“Sedert 2022 was daar waterverliese met ’n baie klein infrastruktuur en boonop is daar ook finansiële uitdagings. Ons het die 13 dae sien kom daarom volg ons ’n holistiese benadering. Ons hoop dat ons nie Dag Zero sal bereik nie. Ek kan die gemeenskap die versekering gee dat alhoewel daar vir reën gebid word, die munisipaliteit al hul energie sal gebruik om ’n moontlike Dag Zero af te weer.”
Volgens Sereo het die provinsiale regering reeds ingegryp en is daar ingenieurs gestuur. Daar sal nou ook nuwe boorgate gesink word.
Die distriksmunisipaliteit help reeds dat die watervlakke reeds op ’n aanvaarbare vlak is. Daar is ook genoem dat die bestaande damme se waterstoorkapasiteit nou vergroot kan word terwyl dit nou leeg is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’