Update
OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Oudtshoorn word versoek om nie geld aan kinders op straat te gee nie, maar om hulle eerder by die regte ondersteuningsdienste aan te meld.
Hierdie versoek volg op die stigting van ’n nuwe sentrum vir kwesbare kinders by die Scrosoppi-sorgsentrum.
Die fasiliteit bied nou ’n veilige ruimte waar kinders deur middel van verskeie programme en met die ondersteuning van maatskaplike werkers gehelp kan word.
Indien ’n kwesbare kind op straat opgemerk word, kan die publiek Maandae tot Vrydae tussen 07:30 en 16:00 die nommer 072 456 1933 skakel sodat gepaste hulp verleen kan word.
Foto verskaf
Die inisiatief word gelei deur Kenneth Mazaleni, hoof van die departement maatskaplike ontwikkeling in die Eden-distrik, en word ondersteun deur ’n komitee bestaande uit verskeie rolspelers, wat onder meer maatskaplike dienste, die plaaslike polisie, die gemeenskapspolisiëringsforum, Kinderwelsyn, ACVV, Meals on Wheels, toerismekantore van Oudtshoorn en De Rust, asook munisipale strukture insluit.
Lede van die publiek wat betrokke wil raak of die sentrum wil ondersteun, kan ’n e-pos stuur na [email protected].
Vorige berigte:
- Nuwe sorgsentrum vir straatkinders
- Fasiliteit gevind vir kindersorgsentrum in Oudtshoorn
- Hulp gevra om sentrum op te rig
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’