Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Nuwe sorgsentrum vir kinders op straat het dié week in Oudtshoorn begin om kinders te akkommodeer.
Die inisiatief spruit uit die dorp se voortdurende uitdaging met kinders wat op straat bedel en soms toeriste en inwoners teister.
Verlede jaar het die voormalige burgemeester, Johan Allers, 'n maatskaplike gemeenskapskomitee in die lewe geroep om saam met verskeie rolspelers oplossings vir dringende maatskaplike uitdagings in die dorp te soek.
Onder leiding van Kenneth Mazaleni, hoof van die departement maatskaplike ontwikkeling in die Eden-distrik, het die komitee, bestaande uit verteenwoordigers van verskeie maatskaplike departemente en organisasies, begin werk aan 'n plan om kinders op straat beter te ondersteun.
Die komitee sluit onder meer verteenwoordigers van maatskaplike dienste, die plaaslike polisie, die gemeenskapspolisiëringsforum, Kinderwelsyn, ACVV, Meals on Wheels, die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantore en munisipale strukture in.
Die Scrosoppi-sorgsentrum het 'n fasiliteit beskikbaargestel waar kinders nou deur middel van verskeie programme en ondersteuning van maatskaplike werkers gehelp kan word.
Volgens Corleen Barnard, bestuurder van die Oudtshoorn- en De Rust-toerisme-kantoor, sal 'n sentrale telefoonnommer beskikbaargestel word wat die publiek kan skakel wanneer kinders op straat opgemerk word.
Wanneer 'n kind by die sentrum aankom, word 'n lêer vir die jeugdige oopgemaak sodat hy of sy by die projek kan inskakel en deel kan word van die programme wat by die sentrum aangebied word. Meals on Wheels ondersteun tans die projek deur etes vir die kinders te voorsien.
Verskeie instansies het reeds hul steun aan die projek gegee. Cango Wildlife en ATW Motors het gehelp om die trek van die meubels, wat deur Riverside Lodge geskenk is, te behartig. Items wat reeds ontvang is, sluit banke, kaste, tafels, waaiers, sowel as sekere toiletware en skoonmaakmiddels in.
Volgens Barnard hoop die komitee om tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) kinders suksesvol by die sentrum te kan akkommodeer.
"Ons is steeds besig met 'n behoefte-bepaling ten opsigte van die programme wat aangebied sal word en hoop om hierdie programme deur die jaar en gedurende skoolvakansies aan te bied."
Die sentrum het egter steeds 'n aantal items nodig.
Dit sluit onder meer die volgende in:
- Die installering van 'n stort vir basiese higiëne.
- Herstelwerk aan die dak.
- Kombuistoerusting soos 'n yskas, vrieskas, mikrogolfoond en lugbraaier.
- Tafels en stoele.
- Gordyne, vadoeke en handdoeke.
- Rakke en kaste vir stoorplek.
- Wi-Fi
- Skoonmaakmiddels.
- Tweedehandse klere vir kinders en tieners.
- Toiletware.
- Boeke, bordspeletjies, skryfbehoeftes en ander leer- en vermaakitems.
- Sekuriteitskameras
- 'n Siekeboeg of noodhulp-area met 'n bed en beddegoed.
- Nie-bederfbare voedselprodukte
- Vir die kantoorarea word daar ook 'n lessenaar, kantoorstoel, rakke, 'n kas en 'n rekenaar benodig.
Persone wat items wil skenk, kan dit by die sorgsentrum afgee.
Vorige berigte:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’