Update
OUDTSHOORN NUUS - Adjudant-offisier Anrie Muller, oorspronklik van Oudtshoorn en tans in Barrydale werksaam, het uitstekend gevaar tydens die nasionale polisie-uitnemendheidstoekennings wat op 26 Januarie gehou is.
Muller is aangewys as derde plek nasionaal in die kategorie administratiewe werknemer van die jaar (vlakke 5 tot 7) vir die 2024/2025-boekjaar. Die toekenning vorm deel van die SAPD se jaarlikse uitnemendheidstoekennings.
Volgens Muller was dit ’n groot voorreg om teen die beste administratiewe personeel in die land mee te ding. “Dit was ongelooflik om te sien hoe ’n klein dorpie in die Wes-Kaap met trots kon staan tussen groot stede soos Gauteng en KwaZulu-Natal,” het sy gesê.
Sy het haar dank uitgespreek teenoor haar hele stasie en kollegas vir hul deurlopende ondersteuning.
“Hierdie prestasie sou nie moontlik gewees het sonder die ondersteuning en samewerking van my span nie,” het sy bygevoeg.
Muller se prestasie word as ’n groot trots vir haar gemeenskap en die Wes-Kaap beskou, en bevestig die gehalte en toewyding van administratiewe personeel binne die polisiediens.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’