OUDTSHOORN NUUS - Adjudant-offisier Anrie Muller, oorspronklik van Oudtshoorn en tans in Barrydale werksaam, is Saterdag 17 Januarie tydens die Wes-Kaapse polisie se uitnemendheidstoekennings aangewys as administratiewe werknemer van die jaar (vlakke 5 tot 7) vir die 2024 - 25-boekjaar.
Sy is ook genooi om die nasionale uitnemendheidstoekennings, wat op 26 Januarie plaasvind by te woon.
Muller is reeds 22 jaar in die polisie en was 17 jaar by die Attaqua-honde-eenheid in Oudtshoorn werksaam.
Die toekenningsgeleentheid, aangebied onder die tema Verhoog Standaarde, Vier Sukses, het polisiebeamptes, vennote en belanghebbendes byeengebring om uitstaande diens, professionaliteit en toewyding in veeleisende en dikwels onvoorspelbare werksomgewings te erken.
Nog Karoo-erkenning het gevolg toe kapt. Carlia Vosloo, stasiebevelvoerder van die Prins Albert-polisiestasie, die Stasie van die Jaar-toekenning ontvang het, terwyl Glynis Isaacs van die Ladismith-polisiestasie derde plek behaal het in dieselfde administratiewe kategorie as Muller.
Glynis Isaacs Foto verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’